Sampioen-en-gemengde-groente-spiraalpastei
Bedien 8
Bestanddele:
Kors:
350 g meel
8 g sout
150 g botter
2 groot eiers
20–30 ml yskoue water
Vulsel:
250 g gladde ricottakaas
2 groot plaaseiers
40 g Parmesaankaas, gerasper
1 t. gedroogde kruie
Groente:
8 murgpampoentjies
3 wortels
2 eiervrugte
4 groot portobellosteaks (of die grootste bruin sampioene wat jy kan kry)
Olyfolie
Sout en peper na smaak
28 cm losboomriffeltertpan
Metode:
Vir die kors:
In ’n groot bak, meng die meel en die sout. Meng die botter in die meel in met jou vingerpunte. Voeg die eiers by en meng met ’n vurk tot die deeg net-net bymekaar kom.
Voeg die water geleidelik by, ’n lepel op ’n slag, net tot die mengsel bind.
Moenie die deeg te veel bewerk nie. Vorm in ’n groot plat skyf en bedek met plastiek.
Sit die deeg in die yskas vir ten minste 30 minute of maak dit die aand voor die tyd.
Rol die deeg op ’n meelbedekte oppervlak in ’n sirkel van ± 4 mm dik uit. Rol die deeg op jou koekroller. Rol die deeg bo-oor die 28 cm-tertpan af. Druk die deeg in die bodem en kante van die pan in.
Sny meeste van die oorhang af. Los slegs ’n paar mm bo die rand van die tertpan.
Prik die basis van die deeg met ’n vurk.
Plaas dit in die yskas om vir 15 minute te rus.
Voorverhit die oond tot 200 °C.
Maak die tertpan se basis vol met gefrommelde bakpapier en bakboontjies of rys. Bak blind vir 20 minute. Verwyder die boontjies en bakpapier en sit weer vir nog 7 minute in die oond. Sit die kors eenkant.
Vir die vulsel:
Klits al die bestanddele saam en geur goed. Sit eenkant.
Vir die groente:
Gebruik ’n groenteskiller en sny die murgpampoentjies in dun repies. Gooi dit in ’n bak saam met sout en plaas in ’n sif om vloeistof te verwyder.
Sny die wortels en die eiervrug in dun repies. Verwyder die stingel uit die portobellosampioene met ’n baie skerp mes en sny dit in dun repies.
Sny al die groenterepies sodat die repies en snye so na as moontlik aan dieselfde grootte is, sodat dit goed saam in lae sal pas.
Om aanmekaar te sit:
Smeer die vulsel eweredig oor die bodem van die kors. Begin aan die buitekant langs die rand van die tertpan en pak die groenterepies in lae, wissel af met elke tipe groente tot die hele pan vol is.
Verf die groente met ’n bietjie olyfolie en geur met sout en peper.
Bak teen 200 °C vir 35–40 minute tot die groente net sag en deurgaar is.
Die tertkors moet bros wees. Laat rus vir 10–15 minute. Sny in skywe en bedien saam met ’n vars groenslaai.
Resep: The South African Mushroom Farmers’ Association





