Gebraaide snoek is ideaal vir Braaidag.

Foto: Cooking from the heart Credit: SYSTEM

Op die kalender is September ’n besige maand. Behalwe dat dit lente inwy, word die klem ook onder meer op hartgesondheid geplaas. Boonop word Erfenisdag op 24 September gevier; ’n dag wat in die volksmond na Braaidag herdoop is.

Met hierdie resepte kan Braaidag gehuldig word, terwyl ’n mens ook aan jou hartgesondheid dink:

Snoek met appelkooskonfyt

60 ml blatjang

15 ml appelkooskonfyt

5 ml gemaalde komyn

30 ml suurlemoensap

15 ml sonneblomolie

2,5 ml sout

swart peper na smaak

1,2 kg vars snoek

Maak so:

Meng die blatjang, appelkooskonfyt, komyn, suurlemoensap, die helfte van die olie en sout. Geur met die peper.

Smeer ’n braairooster met die res van die olie en plaas die vis met die velkant op die rooster.

Smeer die konfytmengsel oor die vis. Braai dit vir 15 tot 20 minute oor matige warm kole. Draai die rooster om en braai die vis vir enkele minute aan die bo-kant.

As bygereg, ’n trek-uitmekaar-brood

750 ml volgraanmeel

375 ml koekmeel

30 ml bakpoeier

2,5 ml sout

30 ml varsgekapte pietersielie

15 ml vars tiemieblare

125 ml grofgerasperde kaas

2 eiers, geklits

500 ml ongegeurde jogurt

60 ml melk, plus 10 ml

125 ml sonneblomolie

2 knoffelhuisies, indien verkies

’n Knippie paprika

Maak so:

Smeer ’n platboom-ysterpot met olie. Meng die volgraan- en koekmeel, bakpoeier en sout in ’n mengbak. Meng die helfte van die kruie en die helfte van die kaas in die droë meelmengsel.

Klits die eiers, jogurt, melk en olie saam in ’n aparte bak, en voeg die knoffel by.

Meng die eiermengsel in die meelmengsel met die hef van ’n tafelmes terwyl die vloeistof in die droë bestanddele “gesny” word. Meng dit net totdat die deeg vorm. Vorm die deeg in 18 tot 20 balletjies. Moet dit nie te veel hanteer nie. Pak die balletjies van die middel van die kastrol se boom, al in die rondte, sonder dat hulle aan mekaar raak.

Borsel die 10 ml melk oor die deeg en strooi die oorblywende kruie, kaas en paprika bo-oor.

Plaas die kastrol se deksel op, en plaas die kastrol oor medium warm kole. Plaas ook ’n paar klein kole bo-op die deksel. Bak vir ongeveer 25 minute tot gaar.

Bedien die snoek en brood saam met ’n groenslaai.

As nagereg, sit dadel-en-sjokolade balletjies voor

40 g sjokolade, in stukke gebreek.

15 ml kakao

45 ml melk

5 ml vanjiele-geursel

250 g ontpitte dadel, fyn gekap

100 ml klapper

Plaas die sjokolade in ’n glasbak en laat dit oor ’n kastrol met pruttende water smelt.

Meng die kakao met van die melk om ’n pasta te vorm en meng met die res van die melk en vanjiele. Meng van die gesmelte sjokolade in die melkmengsel tot goed gemeng. Voeg by die res van die sjokolade.

Roer die dadels en klapper by. Rol die mengsel liggies in balletjies. Koel af.

Bron: mydynamics.co.za/cooking-from-the-heart

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article