Braam Fourie (84), lid van die Griekwas se span wat die Curriebeker in 1970 gewen het, is verlede week in Kimberley oorlede.
Fourie is die derde lid van die befaamde span van Mannetjies Roux (kaptein) wat binne maande van mekaar oorlede is.
Daar is nou net ses lede van die span oor wat die gedugte Noord-Transvaal met 11 – 9 in die De Beers-stadion in Kimberley geklop het.
Fourie se dood volg twee maande ná dié van Joggie Viljoen (78), voormalige Springbok-skrumskakel, in Augustus.
Piet Visagie (79), die losskakel van die span, is op 22 Desember verlede jaar dood.
Antoinette Fourie, Fourie se skoondogter, sê hy is in die Mediclinic Gariep-hospitaal in Kimberley oorlede.
Hy het aan bloedkanker en longkanker gely.
Fourie het by ’n myn gewerk en deeltyds op die plaas Strelley by Kuruman geboer.
Ná sy aftrede in 1999 het hy heeltyds geboer.
Neil, sy seun, boer nou op die plaas.
Sy dogter, Lizette Hauman, woon in Kuruman.
Sy vrou, Ina, is in 2015 oorlede.
Fourie se roudiens is op Saterdag 28 Oktober om 11:00 in die Gereformeerde kerk (Dopperkerk) in Kuruman.


