Odine Swanepoel (links) en Janke Coetzer was goeie vriendinne van hul hoërskooldae in Polokwane. foto: Verskaf

Credit: SYSTEM

Altesaam 24 mense het binne die afgelope twee maande in drie afsonderlike gru-ongelukke hul lewe op Noord-Kaapse hoofpaaie verloor.

Die mees onlangse voorval, waarin ses mense dood is, het Saterdag (29/10) omstreeks 19:45 op die N18-roete tussen Hartswater en Jan Kempdorp plaasgevind toe ’n Polo- en Hyundai-voertuig reg van voor gebots het.

Op 24 September is sewe mense in ’n gru-botsing op die R31-roete tussen Kuruman en Daniëlskuil dood, en op 4 September is 11 dood in ’n botsing op die N14 sowat 21 km buite Kuruman.

Lt.kol. Sergio Kock, polisie­woordvoerder, sê in Saterdag se ongeluk is drie meisies dood wat in ’n Polo-voertuig gereis het, asook ’n man en twee vroue wat in die Hyundai-voertuig was.

Die oorlede meisies is die Coetzer-sussies Janke (19) en Lize (16) van Jan Kempdorp; ook Odine Swanepoel (19), ’n goeie vriendin van Polokwane uit hul skooldae.

’n Vrou en ’n man wat saam met hulle in die voertuig was, Martine Degenaar (19) en Albie Schutte (19), is vir behandeling na ’n hospitaal gehaas.

Sipho Vuma (45), Sindiwa Vuma (49) en Barrel Makhowa (59), wat in die Hyundai-voertuig was, is op slag dood.

Die Coetzer-sussies was Johan en Louisa Coetzer se enigste kinders.

Odine (19) word deur haar ouers Jacques en Lena-Marie, en Xander (22), haar ouer broer, van Polokwane oorleef.

Die sussies se troosdiens is Donderdag (03/11) om 16:00 in die NG kerk Jan Kempdorp, en Swanepoel se troosdiens Saterdag (05/11) om 11:00 in die NG kerk Noord in Polokwane.

Albie, ’n nefie van die Coetzer-sussies, is in ’n kritieke toestand. Hy word in die waakeenheid van die Lenmed-hospitaal in Kimberley verpleeg. Hy het swelling op die brein en is aan masjiene gekoppel, en sy bo- en bekkenbeen is onder meer gebreek.

Martine, wat intermediêre-fase-onderwys aan die Noordwes-Universiteit (NWU) in Potchefstroom studeer, is in ’n stabiele toestand nadat sy met gebreekte ribbes in dieselfde hospitaal in Kimberley opgeneem is. Haar een long is raakgesteek en ook haar lewer is beskadig. Die oorlede meisies ken mekaar van die Hoërskool Pietersburg in Polokwane, waar die Coetzer-sussies ’n tydperk skoolgegaan het voordat hulle saam met hul ouers na Jan Kempdorp teruggekeer het. Janke en Odine was eerstejaarstudente aan die NWU, maar het in verskillende koshuise gewoon. Janke het hoërskool­onderwys en Odine BCom-ondernemingsbestuur studeer. Lize, wat in gr. 10 was, het in die koshuis van die Hoërskool Diamantveld in Kimberley gebly. Al drie was kranige netbalspelers.

Die Coetzer-egpaar het Maandag die lyke van hul kinders in Kimberley uitgeken en Lize se koshuiskamer opgeruim, sê ds. Diederich Kleynhans van die NG kerk Jan Kempdorp.

’n Bewoë Yolande Roelofze van Jan Kempdorp, ’n tannie van die twee Coetzer-sussies, sê hul dood is ’n geweldige skok vir die familie.

“Ons het nie woorde nie.”

Magda Myburgh, ’n netbalafrigter, sê op Facebook haar hart is stukkend oor die Coetzer-sussies: “Dankie dat ek vir vier jaar deel van jul lewe kon wees, julle twee het die mooiste harte en was die talentvolste sussies wat ek geken het.”

Intussen sê Theo Joubert, VF Plus-raadslid, in ’n mediaverklaring dat die afsterwe van ses mense in hierdie ongeluk die gebrekkige toestand van die betrokke pad op tragiese wyse onderstreep.

Die pad is deel van die N18, en deel van die Trans-Afrika-hoofweg, wat Kaapstad en Kaïro verbind.

Buiten ’n roete vir langafstandverkeer, is hierdie roete die hoofslagaar van die Vaalharts-besproeiingskema, een van die grootste en mees gekonsentreerde skemas in Suid-Afrika.

Vragmotors wat stadig beweeg en sigbaarheid beperk, deel die pad met passasiersvoertuie wat vinniger beweeg, sê hy.

Dit is duidelik dat beplanners besef het dat verkeersdrukte ’n breër pad sou noodsaak. Die padreserwe en konstruksie van brûe bewys dat ’n dubbelpad in elke rigting beplan was. Tot dusver het dit nog nie werklikheid geword nie.

Die vraag is hoeveel sterftes nodig is om die owerheid daarvan te oortuig, vra Joubert.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article