Ons hoor al hoe meer stemme wat sê dat hulle nie meer op hul gemak in die kerk is nie.
Hulle is soos Psalm 84 se drumpelstaanders. Hulle word tog geboei deur God en dit wat in die kerk aangaan, en hunker om binne te gaan, maar pas nie goed in nie. Hulle voel ontuis.
“A sense of belonging” ontbreek. Daarom bly hulle aarselend op die drumpel staan.
Hoekom sukkel ons soms so om tuis te kom in God se teenwoordigheid?
Dit het waarskynlik te doen met die manier waarop ons God beleef. Wie is God nou eintlik? Waar vind jy God? Miskien is Hy bo in die hemel of dalk Sondag in die kerkgebou. Vir baie is daar twee wêrelde – dié waarin ek leef en God s’n. Op ’n Sondagmôre in die kerk betree ek sy wêreld.
Maar as ons so oor God dink, is hy net ’n God vir engele – ’n Sondaggod. Vir die Psalmdigter is God groter as net die hemel of die kerk; die digter weet dat God ook met die gewone lewe te doen het. Gemeenskap met God begin en eindig nie in die kerk nie. Dit begin in die regte lewe, en eindig in die kerk.
Ons kry nie noodwendig in die kerk ’n buitengewone ervaring van God nie. Nee, wat ek in die erediens meer ervaar as daar buite is dat my lof, aanbidding en belydenisse opgaan in ’n koor.
Dit wat ek soms buite die kerk stoksiel-alleen moes doen, word in die erediens deur ’n menigte stemme versterk. Dit gaan altyd in die erediens om tuis te wees by God. Ook bymekaar, en dat almal – die swaeltjie (trekvoël) en die mossie (standvoël) – tuis sal wees by God.



