Lewende water: Verstaan nietigheid, geringheid van die mens


Lank is geglo dat die son om die aarde draai; dat dit die middelpunt van alles is. Toe Galileo Galilei daarop wys dat dit andersom is, is geglo hy is mal.

Baie water het sedertdien in die see geloop, maar ons denke hieroor het nog nie verander nie.

Te veel mense dink steeds dat alles om hulle draai. ’n Mens sien dit in ons selfsugtig­heid en matelose egoïsme . . . hoe ons gedurig te nagekom voel as die wind nie na ons seile waai nie . . . in ons ongelukkigheid as mý belange nie gedien word nie.

Jy was dalk ’n leier op skool, maar op universiteit ontdek jy jy is een van vele sulkes. Jy behaal ’n graad, om in die tou te staan saam met duisende ander met grade. Jy dink jy is die “main peanut”, en ontdek daar is baie ander “peanuts” in die pakkie. Jy dink jy is ’n ster, maar kom agter jy is ’n flonkering, ’n stippeltjie in die ewigheid van die heelal.

Soos die digter van Psalm 8 skryf: “As ek U hemel aanskou, die werk van U vingers, die maan en die sterre waaraan U ’n plek gegee het, wat is die mens dan dat U aan hom dink, die mensekind dat U na hom omsien?” Die veronderstelde antwoord: Ons is eintlik gering.

Miskien is dit die beste ding om te weet dat ons nietig, eintlik niks is, maar voor God waarde het. Die digter sê ook: “U het hom net ’n bietjie minder as ’n hemelse wese gemaak en hom met aansien en eer gekroon . . .”

God maak ons wat ons is. Dit maak ons vry om minder besorg te wees oor wat ander van ons dink en die lewe te geniet met wat God aan ons skenk.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article