Welgeluksalig is die man wat nie wandel in die raad van die goddelose en nie staan op die weg van die sondaars en nie sit in die kring van die spotters nie . – Psalm 1:1, 1953-vertaling

Dit leer dié Psalm: Dit sal goed gaan met iemand wat reg loop, staan en sit.

Ons kan inderdaad aan mense se loop sien of hulle besig is met gesonde dinge of nie. As hulle suutjies loop, of draaie loop, kan ons vermoed dat hulle met ondeursigtige dinge besig is. Ons kan onsself bekyk, of ons reguit en openlik die eerlike pad loop.

Party mense loop met self­vertroue; doelgerig. Hulle weet waarheen hulle op pad is. Hulle loop nie draaie nie en jy kan op hulle reken. Hul oggend- en aandpraatjies stem ooreen.

So verklap ’n mens se manier van staan ook iets. Soms kan ’n mens aan iemand se staan sien hy beplan kattekwaad X wanneer iemand staan en loer; staan en plannetjies maak; staan en niks­doen; vir kwaadgeld rondstaan.

Daar is ook hulle wat trots en menswaardig staan . . . gereed staan . . . ander bystaan.

In wie se geselskap sit ons? Waar hang ons uit? Party kies opbouende geselskap. Maar daar is dié wat sit en skinder . . . sit en dobbel . . . sit en drink . . . sit en niksdoen.

Psalm 1 wil ons vra: Waarheen is jy op pad? Hoe verwyl jy langs die pad? Met wie en wat bemoei jy jou?

Die psalmdigter gee die antwoord. Daar is net twee paaie: Die pad van die goddelose en dié van die regverdige. Geen plek vir draadsitters, draailopers en eenkantstaners nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article