“Citius, Altius, Fortius” beteken “Vinniger, Hoër, Sterker” en is die motto van die Olimpiese Spele. Dié spele in Parys het ons met hoogtepunte, nuwe rekords en spanningsvolle oomblikke aangegryp. Wat ’n belewenis was dit nie.
Die oorsprong van dié spele kan in die antieke spele gevind word met sy oorsprong in 776 v.C. Daarom dat Nuwe Testamentiese Bybelskrywers vele kere na ons geloofslewe as ’n wedloop verwys. Die mooiste voorbeeld is in 1 Kor. 9:24-27:
“Weet julle nie dat atlete wat aan ’n wedloop deelneem, wel almal hardloop, maar dat net een die prys ontvang nie? Hardloop dan só dat julle die prys kan wen. Almal wat aan ’n wedstryd deelneem, ontsê hulleself allerlei dinge. Hulle doen dit om ’n verganklike oorwinnaarskroon te verkry, maar ons ’n onverganklike. Ek hardloop dan ook soos een wat nie van sy doel onseker is nie; ek slaan soos ’n bokser wat nie in die lug slaan nie. Maar ek oefen my liggaam en bring dit onder beheer, sodat ek nie ander tot die stryd oproep en self nie kwalifiseer nie.”
Wenners in die antieke tyd het ’n olyftakkroon ontvang, maar gelowiges ’n onverganklike oorwinnaarskroon. In die Spele is net een wenner; in die geloofswedloop behaal elkeen wat dit voltooi, ’n oorwinning.
Om te wen verg ysere dissipline, oefening, volharding, doelgerigte deelname, ’n bepaalde manier van leef, onsself sekere goed ontsê.
Dalk moet dít ons motto vir die geloofswedloop wees: “Gedissiplineerd, doelgerig, volhardend”.



