Dit is weer daardie tyd van die jaar dat almal voel hulle het ’n bietjie rus nodig.
Ongeag al ons pogings om te ontspan, ontdek ons baie keer die rus is elders.
Dit bly ons ontwyk, daarom bly ons op soek daarna, om elke keer maar net weer te ontdek dat ons nog nie klaar gerus het nie.
Waarom sou dit so wees?
Jare gelede vertel ’n boer, wat van vroeg tot laat gewerk het sonder om ooit met vakansie weg te gaan of te rus, dat sy energie op is.
Ná verskeie besoeke aan die dokter is die beste raad wat die dokter vir hom kan gee: “Jy moet rus.”
“Dit,” sê hy toe vir my, “is juis my probleem – ek weet nie hoe om te rus nie.”
Baie mense worstel hiermee, ongeag daarvan dat die Here ons geskep het om te rus en selfs vir ons ’n spesiale dag, ’n rusdag, gegee het vir hierdie doel.
Ons sukkel maar met die ritme van werk en rus.
Selfs diegene wat wel daarin slaag om so ’n ritme te handhaaf, sukkel dikwels om ware rus te ervaar, want rus is meer as bloot net ophou werk.
Rus beteken soveel meer.
Dit beteken ontspan, maar ook tevredenheid, kalmte en ’n gevoel van veiligheid, selfs in omstandighede wat soms uitdagend is.
Waar kry ’n mens hierdie soort rus?
Die psalmis help ons hiermee wanneer hy sê: Net by God vind ek rus, want op Hom vertrou ek. (Psalm 62:6)

