Die onlangse brande laat my terugdink aan die keer toe ek een nag deur ’n swart verbrande stuk veld moes ry om iemand te besoek.
Met my rit daarheen is ek deeglik bewus van die doodsheid rondom my. Alles is deur ’n verwoestende veldbrand vernietig.
Tydens my besoek begin dit liggies sneeu.
Op pad terug verskyn ’n sprokiesmooi landskap voor my. Die nat veld vertoon nog swarter in die motor se ligte, maar bo-op die swart graspolle wat oorgebly het, lê ’n spierwit laag sneeu – ’n ongelooflike mooi kontras van kleur.
Een uitgestrekte skildery, volmaak soos net die Skepper dit kan doen.
Vir my het hierdie prentjie ’n simbool van hoop geword. Daar kan in die donkerste donkerte, wat daardie donkerte ook al mag wees, tog hoop wees.
Hoop omdat die Skepper van alles oor die donkerste donkerte tog ’n spierwit kombers kan gooi.
Die donkerte verdwyn nie noodwendig eensklaps nie, maar Hy versag dit deur sy teenwoordigheid.
Ons moet net leer om die lig raak te sien.
Dikwels verras die Here ons op onverwagte maniere, maar soms doen Hy dit op doodgewone maniere deur ’n medereisiger wat ’n oomblik by jou kom stilstaan en jou hand vat.
Kom ons maak ons oë oop vir God se betrokkenheid, deur ander, in ons donkerte.
Kom ons bring die lig van God in ander se donker.
“Laat julle lig so skyn voor die mense dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader in die hemel verheerlik.” – Matteus 5:16




