Toe die Here aan Moses by die brandende doringbos verskyn, roep Hy hom met veelseggende woorde om sy volk uit Egipte te bevry.

Eks. 3:7 lui: “Ek het die ellende van my volk in Egipte duidelik gesien en hulle noodkrete oor die slawedrywers gehoor. Ek het hulle lyding ter harte geneem.”

God sien ons nood, hoor ons noodkrete en neem dit ter harte. 

As Moses dan vra oor God se naam, gee die Here hierdie misterieuse antwoord: “Ek is wat Ek is.”

Eintlik sê dié naam alles.

God is handelend teenwoordig in die hede.

Inderdaad het Israel dit telkens op hul vermoeiende tog op pad deur die woestyn na die beloofde land ondervind: die God wat hulle bedags met ’n wolkkolom vooruitgegaan het, snags met ’n vuurkolom gelei het, en telkens vir hulle met water, kwartels en manna gesorg het.

As hulle gedink het dat hulle op hul einde is, het die Here telkens op ’n wonderbaarlike manier voorsien.

Dit is dieselfde God.

Die God wat nie alleen getrou is aan sy beloftes nie, en ook in die verlede sy volk verlos het; wat nog steeds ons nood raaksien en ons noodkrete hoor en ter harte neem; wat in Christus, Jesus die Verlosser van die wêreld vir ons gestuur het, omdat hy ons so oneindig liefhet.

Mag ons hierdie Kerstyd ervaar dat hy Immanuel – God met ons – is. Mag ons in nood en ellende ervaar dat hy steeds handelend teenwoordig in ons lewe is.

Geseënde Kerstyd aan al die lesers.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article