Hopelik het elkeen op 29 Mei sy plig nagekom en gestem. Maar nou lê daar ’n groter verpligting op ons as gelowiges.

Ná die verkiesing is Paulus se oproep aan Timoteus (1 Tim 2:1-2) baie belangrik: Ek dring daarop aan dat daar in die eerste plek met smeking, voorbidding en danksegging gebid moet word vir alle mense, vir dié wat regeer en vir almal wat gesag uitoefen, sodat ons ’n rustige en stil lewe kan lei in volkome toewyding aan God en in alle eerbaarheid.

Paulus druk hom sterk hieroor uit: “Ek dring daarop aan . . .”

Bid met smeking. Om te smeek, is soos om te bedel. William Barclay skryf: “Prayer begins with a sense of need. It begins with the conviction that we cannot deal with life ourselves.”

Dit is om met ’n diepe afhanklikheid te bid met die wete dat alles nie van onsself of leiers afhang nie, maar van God wat uit sy genade ons gebede verhoor.

Doen voorbidding vir ons land en sy mense. Ook vir hulle wat regeer en gesag uitoefen. “O se boloke, O se boloke setjhaba sa heso, Setjhaba sa South Africa” (“protect us, protect our nation, our nation South Africa”).

Maar ook belangrik: Sê dankie as die Here ons gebede verhoor; vir hulle wat opstaan vir geregtigheid, stem dik maak teen korrupsie; vir elkeen wat positief ’n verskil maak. Ons sukkel omdat ons oorweldig word deur die negatiewe en nie die positiewe raaksien nie.

Ons moet ook die “sodat” bylees: Waar ons begin bid vir almal – vir die owerheid, politieke leiers, polisie, dié wat wet en orde handhaaf – skep ons die veilige ruimte waarin die kerk van Jesus Christus kan aanbid en vrylik sy werk doen.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article