Erfenisdag raak toe nasionale Braaidag – asof ons nie ’n groter erfenis as braaivleis en braaibroodjies het nie.

Ek praat van moederaarde wat die Here met sy seën aan ons as mens toevertrou het om te bewoon en te bewerk en daaroor te heers (Gen. 1:28).

In die woorde van Nataniël se lied: “O, wanneer gaan ons leer sy’s al wat ons het.”

Toe ek ’n kind was, is ek geleer dat al wat jy op ’n plek mag agterlaat, jou voetspore is – menende dat jy nie rommel mag strooi nie.

Selfs oor die voetspoor wat ons nalaat, het ek kommer. Ons trap nie net nie, maar vertrap. Met ons 4 x 4-spore vertrap ons ekologies sensitiewe gebiede. Om nie te praat van die koolstof­voetspoor wat ons nalaat nie. In die naam van vooruitgang, werkskepping en voedsel­sekerheid gebruik ons die aarde op, oorbewei en dolf ons om.

Ons besoedel waterbronne en riviere met riool en gifstowwe. Kyk hoe lyk dit langs ons paaie, in ons dorpe – die plastiek, papiere en bottels. Ons mors met kos.

Kortom, ons is besig om op ’n ekologiese krisis af te stuur.

Daar is nie eenvoudige antwoorde op dié krisis nie, maar ons mag nie ons verantwoordelik­heid ontduik nie.

Elkeen van ons moet ’n rol speel om meer te spaar; minder te bemors en te besoedel. Ons het ’n erfenis om te bewaar.

Ons gebed is uit CJ Langenhoven se Stem van Suid-Afrika: “Skenk ook ons die krag, o Here! om te handhaaf en te hou – dat die erwe van ons vad’re vir ons kinders erwe bly.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article