’n Opwindende eindstryd in die ZF Mgcawu-liga tussen die rugbyspanne van Kakamas en United op 8SAI se rugbyveld in Upington is Saterdag (12/08) in ’n groot mate deur sommige toeskouers se onaanvaarbare gedrag bederf.
Dat ’n kultuur van wangedrag onder sommige toeskouers tydens Saterdag se wedstryd hoogty gevier het, kan onder geen omstandighede geduld word nie.
Die vraag ontstaan: Was alle noodsaaklike vereistes in plek voordat dié belangrike wedstryd ’n aanvang geneem het?
’n Horde toeskouers het die terrein met okkapype en sterk drank betree. Terwyl die wedstryd aan die gang was, het seuntjies na aan die speelveld balle rondgeskop asof dit hulle was wat in ’n stryd gewikkel is.
Waar was die rugby- en sekuriteitsbeamptes wat moes toesien dat sulke wanorde gestop word?
Daar was nie eens ’n telbord beskikbaar om die telling vir die toeskouers aan te dui nie. Ná die wedstryd het baie toeskouers verneem wie nou eintlik die wedstryd gewen het.
Dit is rugbybeamptes se verantwoordelikheid om wedstryde vir toeskouers aanloklik en toeganklik te maak, en ook om streng op te tree teenoor diegene wat die reëls oortree.
Uit ’n toeskoueroogpunt was dit ’n laagtepunt tydens ’n wedstryd wat veronderstel was om op ’n hoogtepunt af te sluit. United het goeie rugby gespeel en het verdien om die wedstryd met 23 – 15 teen die besoekende span van Kakamas te wen.
Ons as rugbyliefhebbers hoop en vertrou dat sulke onaanvaarbare gedrag nie weer sy lelike kop sal uitsteek wanneer die volgende rugbyseisoen ’n aanvang neem nie.
Baie vrae is steeds daar om beantwoord te word. Die rugbybeamptes sal meer verantwoordelik moet wees om nie ’n herhaling van Saterdag se swak toeskouersgedrag te beleef nie.

