Die NoordkaapBulletin van 11 Augustus verwys.

Dit is verblydend om te sien dat nou, ná al die groot byeenkomste die afgelope jaar in ons stad, iets aan die patetiese toestand van paaie in Kimberley, hoofstad van die Noord-Kaap, gedoen word.

Ek glo die premier gaan spog met die toestand van paaie nadat dit geteer is, asook die effektiewe wyse waarop die projek hanteer is.

Ongelukkig moet ek aandui dat die projek, soos verskeie ander in die stad, nie gaan slaag as daar nie indringend beter projekbeplanning en -bestuur toegepas word nie. Waar die werk begin is, is geen teken van behoorlike toesighouding, effektiewe beplanning, uitvoering en tydbestuur nie.

Die span het rondom 2 Augustus op die hoek van Croninstraat en Swannsweg begin met voorbereiding om te teer. ’n Paar voorbereide gate is ’n dag later geteer. Die res is net so gelaat en voertuie moes maar daardeur sukkel.

Die span beweeg toe na Lornastraat, waar voorbereiding oor omtrent 100 m gedoen is, met die gate wat omtrent twee dae só gelaat is. Die res van Lornastraat, met erge gate, is net so gelos.

Intussen het die span na George Barrelstraat aan die bokant van Lornastraat beweeg en na verneem word ook terug na ander strate waar werk nie “voltooi” is nie. Op Vrydag 12 Augustus omstreeks 17:00 het die vragmotor met teer ’n paar gate in George Barrel- en Lornastraat gevul, tot so teen 19:00.

Die week daarop is terugbeweeg na Swannsweg, waar aanvanklik begin is, asook George Barrelstraat – om weer net sommige gate te vul.

Geen verdere voorbereiding- of teerwerk is intussen in hierdie omgewing gedoen nie. Op navraag het ’n spanlid gesê dat daar nie meer teer is nie, maar dat hulle sou terugkom om werk te voltooi. Nog ’n lid het gesê daar is teer, maar dat die teermasjien buite werking is. Op 15 Augustus is van die gate op die hoek van Swannsweg en Lornastraat gevul, terwyl ander half of glad nie gevul is nie.

Hierdie detail dui aan hoe swak projekte beplan en uitgevoer word. Die span begin omstreeks 10:30 werk, en van 12:00 tot 13:00 word daar geëet, waarna hulle tot 15:00 werk en dan oppak. Om oortyd te eis, daag die teerspan Vrydagmiddag laat op en vul ’n paar gate.

Intussen word daar op en af met die vragmotors gery. Ekstra koste word aangegaan om telkens na ’n straat terug te keer.

Onlangs in George het ons gesien hoe so ’n projek bestuur behoort te word. Strate word stelselmatig een vir een aangepak en die werk afgehandel. Wanneer die werk voltooi is, is die pad gelyk en rybaar. Hier lyk dit soos spoedhobbels wat gegooi is.

Is hier enigsins ’n bestuurder in ons stad om na hierdie projekte om te sien?

Die munisipaliteit het nie geld nie, maar daar is genoeg om laat op te daag, en heen en weer te ry.

Leon Venter,

Kimberley

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article