Wyle sr. Ansie van Komaggas het eenkeer vertel ’n moeder het haar gevra om asseblief met haar kind te kom praat. Die kind gee haar opdraande en wil nie regkom nie. Hy is van die pad af, om dit nou so te sê of noem.
Wyle sr. Ansie het vertel sy was op haar senuwees vir hierdie gesprek. Sy het baie gebid en het beplan om die kind in die week te gaan sien.
Voor die afspraak kon afkom, kry sy die moeder.
Die sê toe vir sr. Ansie, sy weet nie wat gebeur het nie; maar haar kind is nou ’n nuwe persoon. Uit die bloute het die kind ’n verandering ondergaan. Dankie in elk geval dat sr Ansie sou gekom het.
Ek kyk vandag na baie ouers, veral die manier hoe hulle hul kinders grootmaak.
Ek sien die dinge wat ouers hul kinders toelaat om te doen. Die kinders doen dit sommer voor hul ouers, daar word gelag en daaroor gespot.
’n Eenvoudige voorbeeld is hoe laat jong kinders op straat is.
Die kind kom watter tyd die aand of oggendure by die huis, dan is hy of sy te moeg om eens kerk toe te gaan, of Sondagskool of klas toe.
Dan nog iets, onderwysers mag nie eens meer dissipline in die skool toepas nie. Dan kan baie ouers so stry vir hul kinders se gedrag.
Dieselfde ouer(s) wat so arm neerlê vir hul kind of kinders, kan dan wanneer hulle nie meer kop of stert met hul kinders uitmaak of klaarkom nie, hulp gaan inroep.
Nadat hulle vir jare hul kind bederf en dinge toegelaat het – nou moet die onderwyser, polisie, dominee of wie ook al ’n wonderwerk kom doen.
Dis nie verkeerd nie, maar hoekom jou kind in die eerste plek in die kwaad versterk?
Ouers moet weer hul rol opneem en dissipline toepas, want die ouerhuis is die eerste plek waar dit begin. Ouers moet weer ’n voorbeeld stel.
Ons moet hulle grootmaak in die vrese van die Here. Ons kan, want die Here gee ons die krag en genade.
Dan het wyle sr. Ansie my ook geleer, ons moet vas en bid vir ons kinders. Die Here kan vir ons doen wat ons nie kan doen nie. Sommer so in ons slaap.
Om ’n kind groot te maak, vat alles van jou. Mag die Here ons ouers seën, veral met hul baie uitdagings.




