Desperaatheid, wanhoop, ontnugtering.
Dit is die emosies wat oorheers wanneer ’n mens noodgedwonge die Robert Mangaliso Sobukwe-hospitaal in Kimberley betree.
Hoewel ’n mens al voorheen talle bangmaakstories oor die hospitaal gehoor het, was dit steeds ’n skok om dit eerstehands te beleef.
Ek was onlangs teenwoordig toe ’n familielid op ’n Saterdagaand by noodgevalle aangebring is.
Was dit nie vir die vriendelike en behulpsame ambulansmanne van ’n private ambulansdiens nie, het ’n mens reeds hier moed verloor.
Die persoon wat met die pasiënt se inboek-administrasie betrokke was, het in duisternis in sy onvriendelike hokkie gesit. Of die ligte nie gewerk het nie, en of hy dit afgeskakel hou om muskiete en ander vlieëndes weg te hou, weet ’n mens nie.
Feit is dat hy waarskynlik weens die gebrek aan lig foute met die inboekery gemaak het – iets wat ek eers ’n dag of wat daarna agtergekom het en met groot moeite laat regstel het.
In die noodgevalle-afdeling moes daar eers hard vir ’n bed gesoek word, maar dit kan verskoon word. Van die adminpersoneel was uiters ontoeganklik en het ’n mens eerder op en af gekyk – dit is nou die tye wanneer hulle nie op hul selfone gekyk het nie.
Tussen so ’n spulletjie kan ’n mens duidelik sien wie jou gaan help en wie nie. Vir hulle het ek respek, en jammerte. Die dokters wat daar werk, asook die verpleegkundiges, is oorwerk. Wanneer jy hulle in die oë kyk, sien jy ook daar desperaatheid en moedeloosheid. Behalwe teen die oormag van siekes moet hulle teen ’n onbeholpe stelsel stoei.
Toe die pasiënt uiteindelik in die regte saal beland het, het die houding van die personeel weer eens gewissel tussen ontoeganklikheid, en dan dankie tog vir die enkeles wat kan glimlag en wil help.
Maar helaas, die saal se lugreëling was buite werking. In die dag lê die siekes met laaste krag en vlieë waai, en probeer hulself met iets koel waai. In die aande is die geveg met die muskiete.
Die kersie op die koek was dat die hysbak na die spesifieke vloer nie gewerk het nie, en dat pasiënte met beenbreuke op die vreemdste maniere denkbaar trap-of en trap-af vervoer moes word.
Die hospitaalkompleks is groot, met soveel ruimte vir uitstekende mediese dienste. Van die mense wat daar werk, wil help en ondersteun.
Maar ook hulle loop hulself vas teen ’n soliede muur wat gebou is deur nie-omgee, korrupsie, traak-my-nie-agtige kollegas en stelsels wat nie werk nie.


