Ek, Banie Reinecke (59) van Kathu, lewe vandag omdat ek die beste versorging in die Kimberley-hospitaal (of KH, nou die Robert Mangaliso Sobukwe-hospitaal) gekry het.

Op 10 Januarie vanjaar het my blindederm gebars en my liggaam vergiftig. ’n Dr. Phajad het dit verwyder, met behulp van sy span. Ek was 86 dae in die hoësorgeenheid (ICU), waar die dokters en verpleegpersoneel soos familie was.

My vrou was ver en kon my nie gereeld besoek nie, omdat hulle haar nie wou toelaat om my te sien nie.

Suster Rosebud Stone het uit haar pad gegaan om te verseker dat my vrou oor my toestand ingelig bly. Die hospitaal het nie kussings nie en sy het vir my een van haar huis gebring.

Suster Niekkie en haar man het vir my ’n radio gekoop. Dit het gehelp dat die dae nie so lank was nie.

Suster Nellie het vir my ’n kombers gekoop toe dit koud geword het.

Hierdie mense sal altyd in my hart bly. Die dokters het vir my ’n Spur-ete gekoop toe ek die dag uit ICU na die gewone saal verplaas is.

Die ander dokters en susters het my net so goed behandel. Ek glo dat ek dit nie sou oorleef het as dit nie vir KH se personeel was nie.

Die hospitaal is die skoonste hospitaal waarin ek al was, selfs beter as die private hospitale in ons omgewing. Toe ek ná 86 dae na die gewone saal oorgeplaas is, het ek ook daar gesien en beleef hoe goed die personeel is. Hulle was net te min omdat die hospitaal nie nog mense wil aanstel nie.

Die fisio-mense het hul beste gegee dat ek weer mobiel kon raak.

Arbeidsterapeute het my gehelp om weer te skryf en my regterhand te gebruik. Ek het ’n bloedklont in my arm gehad en kon dit nie gebruik nie.

Die kos in die hospitaal was ook baie goed. Die dieetkundiges het ons gereeld besoek, asook die kombuisbestuurder. Almal was hulpvaardig, selfs die skoonmakers het ons pasiënte gehelp waar hulle kon.

Ek is op 6 Mei ontslaan en kon na Kathu terugkeer om verder aan te sterk. Daar was baie mense wat in gebedsgroepe vir my gebid het.

Die personeel en dokters het in die oggende in ICU vir ons gebid.

Daar was mense in die chirurgiese saal wat baie ongeskik met die personeel was. Hulle wou hotelbehandeling in ’n hospitaal hê.

Ek kan nie glo dat mense so ondankbaar kan wees nie.

Ek glo dat KH een van die beste, indien nie die beste nie, staatshospitaal in die land is.

Banie Reinecke,

kathu

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article