Thoko Riet, woordvoerder vir die Sol Plaatje-munisipaliteit.

Foto: Charné Kemp

Terwyl die Sol Plaatje-munisipaliteit tevrede is met die afgelope naweek se herstelwerk aan die water­pypleidingnetwerk, glo die DA die munisipaliteit is nie eerlik met inwoners oor die omvang van infrastruktuurprobleme nie.

Die ganse stad se watertoevoer is Donderdag (12/05) laatmiddag drie dae lank onderbreek sodat “kritieke lekplekke” herstel en kleppe vervang kon word aan die twee grootmaat­toevoerpype van die Riverton-suiweringsaanleg na die stad. By Riverton is sinkdamme skoongemaak, kleppe vervang en ’n pomp herstel.

Volgens Thoko Riet, munisipale woordvoerder, is metings ook vooraf naby die R31-roete gedoen waar lekkende water- en rioolpype oor die jare heen ’n groot dam water langs dié roete laat vorm het.

Die padingenieur het, tydens die watertoevoeronderbreking en nadat toevoer herstel is, metings geneem om vas te stel of die lekplekke herstel is. Die bevindinge sal later vandeesweek bekend gemaak word. As daar nog lekplekke is, sal ons onder die grond daarna moet soek.
Thoko Riet

Tydens herstelwerk is een probleem op die groter grootmaattoevoer­pypleiding hanteer. Gevolglik is die toevoer eers Maandag (16/05) teen 12:00 herstel nadat die munisipaliteit gehoop het dat inwoners die oggend al water in hul krane sou hê.

“Ons het meer as 20 voertuie – tenkvragmotors en ander met tenks bo-op die laaibak – beskikbaar gehad wat water by sekere punte aan inwoners verskaf het. Op ander punte het ons watertenks geplaas waar inwoners water kon tap. Altesaam was meer as 60 watertenks beskikbaar.

“Ons het kritieke lekplekke agter die 3 SAI-weermagkamp, by Roodepan en by Goggapomp op die 965 mm-grootmaattoevoerpypleiding, en een op die 600 mm-grootmaattoevoer­pypleiding in Roodepan, herstel. Kleppe is ook vervang en in Phutanang het ons ’n nuwe meter en klep aangebring. In die stad het ons ook kleppe en ou pype vervang, soos in Meyerstraat naby die Newton-opgaardamme.

“Die werk is deur ons waterwerke-afdeling en ’n private kontrakteur gedoen,” bevestig Riet.

Heinrich Pieterse, DA-raadslid, sê die herstelwerk is grootliks gedoen om die oorstroming van die R31-pad te probeer oplos.

“Die munisipaliteit is nie vol vertroue dat die probleem opgelos is nie. Die probleme dui op die gebrek aan kundigheid om die krisis wat al byna twee dekades aan die broei is, op te los,” sê Pieterse.

“Die nasleep van die gebrek aan kundigheid en beplanning by die munisipaliteit word vererger deur ’n gebrek aan instandhouding van water- en rioolinfrastruktuur.

“Die sinkdamme by die Riverton-watersuiweringsaanleg is met afsaksel en slik aangepak. Dit is ’n voorbeeld van swak instandhouding, met vuil ‘gesuiwerde’ water die gevolg.

“Dit is tyd vir deursigtigheid. Amptenare moet ons inlig oor al die probleme, planne, begrotings en kostes,” sê hy.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article