Probeer hierdie bobaas macaroni-en-kaas-gereg vir lentedag. Bedien dit saam met ’n vars slaai.

Foto: Weg!

So op lentedag, wat te warm is om winterbredies te eet, maar steeds te koud vir ’n slaai, is hierdie macaroni-en-kaas-gereg ’n ideale keuse.

Hierdie weergawe kry spinasie en spek.

Probeer hierdie bobaas macaroni-en-kaas-gereg vir lentedag. Bedien dit saam met ’n vars slaai.

Jy benodig:

1 eetlepel botter

1 middelslag ui, gekap

125 g spek, fyngekap

800 g vars spinasie, stingels uitgesny en fyngesnipper

Vir die witsous

ongeveer 5 eetlepels botter

4 eetlepels koekmeel

2 koppies melk

½ koppie room

sout en varsgemaalde swartpeper

2 koppies cheddarkaas, grofgerasper

300 g rou macaroni

2-3 eetlepels droë broodkrummels

So maak jy

1. Smelt die botter in ’n kastrol en braai die uie totdat dit sag en glansend is. Gooi die spek by en braai dit tot bros. Voeg die spinasie by en roerbraai dit totdat dit verlep en sag is. Skep die mengsel onderin ’n gesmeerde oondskottel.

2. Vir die witsous, smelt die botter in ’n kastrol en roer die meel by totdat alles gemeng is. Draai die plaat laer en roer die melk en room by – gebruik ’n draadklitser om te keer dat klonte vorm. Die sous is reg wanneer dit begin kook. Haal die sous van die plaat af en geur dit met sout en swartpeper. Roer dan die helfte van die kaas by.

3. Gooi die macaroni in ’n kastrol vol kokende soutwater. Roer dit dan goed deur en kook die macaroni vir 10 tot 12 minute sonder ’n deksel. Dreineer dit in ’n vergiettes.

4. Skep die pasta bo-oor die spek-en-spinasiemengsel in die oondskottel. Gooi nou die witsous eweredig oor en sprinkel die res van die kaas oor. Sprinkel laastens die broodkrummels oor.

5. Sit die skottel in ’n oond wat tot 180 °C verhit is en bak dit sowat 30 tot 45 minute.

Bron: Weg!, 1 Augustus, Sonja Jordt

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article