Twee leerlinge aan die Sekondêre Skool Carlton van Heerden in Upington is weens ernstige beserings in die Dr. Harry Surtie-hospitaal behandel nadat hulle mekaar glo buite die skool met messe toegetakel het.

Sers. Omphile Masegela, polisie­woordvoerder, sê die polisie ondersoek klagte van poging tot moord.

Die leerlinge – albei 17 jaar oud, van wie een in gr. 9 en die ander in gr. 11 is – het mekaar op 6 Junie glo kort nadat die skool verdaag het buite die skool toegetakel.

Die ma van die gr. 9-leerling het gesê hy is Maandag buite die skool eers in sy rug gesteek en toe hy omdraai, het die aanvaller hom van voor gesteek. Een van die messteke het sy long getref.

Hy het ook beserings aan sy hand opgedoen en het ’n steekwond aan sy kop.

Sy sê hy het tydens die aanval ’n mes, wat hy saam met hom skool toe geneem het, uit sy sak geruk en die aanvaller terug gesteek.

Die vrou sê haar seun het die mes saam met hom geneem omdat hy glo die Saterdagaand naby ’n plaaslike kuierplek deur lede van twee bendes met sambokke en pikstele aangerand is.

Geoffrey van der Merwe, woordvoerder van die Noord-Kaapse onderwys­departement, sê die departement se distrikskantoor het op 8 Junie die skool besoek om vas te stel wat tot die voorval gelei het.

“Die departement veroordeel enige vorm van geweld binne of buite die skoolterrein, veral van leerlinge wat in hul skooldrag geklee is,” sê Van der Merwe.

Hy sê die distrikskantoor sal die skool ondersteun en begelei om die onvanpaste gedrag van leerlinge onmiddellik te hanteer.

“Skole is sentrums van uitnemendheid en ons sal geen vorm van geweld duld wat die gehalte van onderwys kan belemmer nie.”

Anena Burger

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article