Inskrywings vir die 2025 Proscenium-dramakompetisie kan nou gedoen word.
Dié kompetisie is vanjaar vir die eerste keer aangebied, en meer as 600 inskrywings van oor Suid-Afrika en Namibië heen is ontvang.
Ná die nasionale uitdunne is 70 kandidate vir die eindronde in Kaapstad gekeur.
’n Hoogtepunt vir finaliste is om ingesluit te word in die geselskap van ’n verhoogproduksie, onder leiding van ’n professionele regisseur, wat by een of meer nasionale kunstefeeste opgevoer word.
Proscenium is ’n inisiatief van die Tribuo Fonds, wat onder meer daarna streef om bemagtigting in die kunste te bevorder.
“Die kompetisie stel deelnemers bloot aan verskeie fasette van die vermaaklikheidsbedryf soos teater, televisie, radio en oorklanking,” sê Karen Meiring, Tribuo se uitvoerende voorsitter.
“Dit sal leerlinge help om ingeligte loopbaanbesluite te neem. Hulle ontmoet professionele akteurs en ervare mentors uit verskeie velde, en skuur skouers met eendersdenkende kulturele en diverse uitblinkers in die land.
Leerlinge van gr. 8 tot gr. 12 kan hulle self inskryf, óf deur hul skole óf onafhanklike drama-opleidingsinstelling. Inskrywings word aanlyn by proscenium.pro gedoen en beloop R200 per deelnemer.
Einde Februarie begin die uitdunrondes in verskeie sentra in die nege provinsies, met die eindronde van 15 tot 17 Mei in die Kunstekaap-teatersentrum. Wenners word dan aangekondig. Sertifikate, medaljes en kontantpryse is op die spel, en RSG kies uitblinkers om in ’n radiodrama te speel.
Gr. 12-finaliste kan ook vir ’n studiebeurs aan Northlink-kollege aansoek doen.
Die sluitingsdatum is 27 Januarie.
- Besoek proscenium.pro of skryf aan info@proscenium.pro.





