Die twee landbougroepe VKB en GWK funksioneer vanaf 31 Mei in ’n nuwe, saamgestelde groep.
Die samesmelting tussen VKB en GWK is finaal deur die toepaslike regulatoriese owerhede, insluitend die mededingingsowerhede, goedgekeur nadat daar aan die transaksie se laaste opskortende voorwaardes voldoen is.
’n Gesamentlike kennisgewing en uiteensetting van die finalisering van die skema is op die twee landbougroepe se webtuistes beskikbaar.
Die aankondiging kom nadat die Mededingingstribunaal op 21 Desember die samesmelting tussen VKB en GWK goedgekeur het, met bepaalde voorwaardes wat deur die twee groepe aanvaar is kort ná ’n aanbeveling van die Mededingingskommissie ten gunste daarvan.
Die gesprekke tussen die twee maatskappye het reeds in Julie 2020 begin, waarna GWK se aandeelhouers op 11 Augustus 2022 ten gunste van die samesmelting gestem het, en VKB se direksie die transaksie vroeër in 2022 binne hul mandaat goedgekeur het.
Die samestelling en ontwerp van die transaksie is deur afgevaardigdes van VKB en GWK gedryf, in samewerking met ’n eksterne, onafhanklike korporatiewe adviseur, Pallidus, om ’n ooreenkoms saam te stel wat verseker dat albei partye beskerm en bevoordeel word.
Verskeie aspekte, onder meer sinergieë in terme van maatskappykultuur en -struktuur, ’n gedeelde visie om landbou te bevorder, die behoud van ’n onderneming in produsentebesit en die voortsetting van gehalte-ondersteuning aan boere op plase, is ondersoek.
Dr. PG Strauss, VKB besturende direkteur, sê dat hy uitsien na die positiewe invloed wat die saamgestelde groep op Suid-Afrikaners gaan hê deur vooruitgang te ondersteun en te inspireer met die groep se betrokkenheid in landbou en die voedselbedryf.
Llewellyn Brooks, GWK se besturende direkteur, sê dat hierdie samesmelting ’n unieke gediversifiseerde en volhoubare produsent-beheerde landbougroep skep.
Voormalige besturende direkteur van VKB Koos Janse van Rensburg, wat ’n integrale rol in die transaksie-ontwerp gespeel het, sê hy is opgewonde dat die voorgenome transaksie ’n werklikheid geword het.
Coenraad Fick, voorsitter van die VKB direksie, sê die maatskappye het soortgelyke kulture, dieselfde geskiedenis en is in produsentebesit.
“Met ’n gedeelde visie vir die toekoms gaan die nuwe, saamgestelde groep selfs nog meer volhoubaar wees, waarde ontsluit en homself as die landbou-onderneming van die toekoms kan vestig,” meen Fick.
Nicolaas Kruger, voorsitter van GWK se direksie, sê die samesmelting bied ’n geleentheid om die maatskappye as ’n eenheid nog sterker te maak.


