Erkenning is aan pionierboere en aan die jonger geslag landbouers met die 70ste bestaansjaarvieringe van die Vaalharts-distrikslandbou-unie gegee.
Tydens die vieringe op 21 Julie by The Venue in Hartswater is die besproeiingsgebied se ryk geskiedenis in ’n “Toeka tot nou”-tema uitgelig. Dit strek van die eerste oorlogsveterane wat hier gevestig is tot vandag waar dit een van die grootste en bekendste besproeiingsgebiede in die land is.
Die sowat 110 landbouers en van hul gades, landbou-ondernemings, asook voormalige en huidige bestuurslede van die unie is deur Christelle Stoman, unie-bestuurder, verwelkom.
Ivor Price, bekende radio- en TV-aanbieder, het as seremoniemeester opgetree. Price het sy ervaringe en gewaarwordinge oor die landbouers van oor die land heen wat in sy programme verskyn het, gedeel.
’n Video, wat die tema weerspieël het, is oor die ontstaan van Vaalharts vertoon. Die skema het in 1938 begin toe die eerste nedersetters hier geplaas is om aan die armblankes ’n heenkome te bied. In 1934 is daar reeds met die bou van kanale en damme begin.
Alewyn Schlebusch, wat as voorsitter van 2013 tot 2017 gedien het, het erkenning gegee aan vorige en huidige landbou-ondernemings wat ’n diens aan die landbouers gelewer het, of steeds lewer. Van die bekendste landbou-ondernemings wat tot die ontwikkeling van die skema bygedra het, sluit die Vaalharts-koöperasie, Langeberg-fabriek, grondboonbotterfabriek, wynkelder, sitruspakhuis, nabygelë kaasfabriek, vendusiekrale en silo’s in.
Gerhard Bruwer, Agri SA Jongboer van die Jaar 2021, het as gasspreker opgetree. Sy passie vir landbou was duidelik sigbaar. Bruwer maak ook ’n verskil in sy gemeenskap deur verskeie opheffingsprojekte op sy plaas. Hy het gesê dat uitdagings bestaan, maar dat met beplanning en aanpassings landbouers die uitdagings, veral die stygende kunsmis- en dieselpryse, sal oorkom. As ’n besproeiingsboer van Douglas, sonder Bruwer vir Eskom uit as die grootste uitdaging om volhoubaar aan te hou boer.
Stefan Smith, voorsitter van 2017 tot 2021, het erkenning aan die pionierlandbouers gegee. Hulle het in moeilike omstandighede Vaalharts van ’n dor tot ’n uitsonderlike besproeiingsgebied ontwikkel. Van hierdie pionierlandbouers was teenwoordig en kon van hul stories en ondervindinge deel.
Pieter van der Merwe, huidige unie-voorsitter, het die geleentheid afgesluit deur te sê dat die toekoms van landbou in die hande van die nuwe generasie landbouers is. Hiermee het hy na die jong landbouers verwys, maar ook na die volgende generasie wat in die landbouklas van die plaaslike skool is.
Afgesien van Rivulis, die hoofborg, se uitstalling, kon gaste ook ander talle ander uitstallings besigtig. ’n Uitstalling van historiese dokumente, onder meer notuleboeke wat uit 1952 dateer asook ander boeke en foto-albums, kon onder meer besigtig word.
– Verwerk, Helena Barnard





