Tydens die onlangse maandelikse byeenkoms van die VLV Kimberley-tak was die fokus op lugbraaiers, wat tans ’n gonswoord in die kombuis is.
Snoekie Erasmus, die Kimberley- en distriksirkelpresident, het tydens die byeenkoms resepte vir die lugbraaier met die tak gedeel. Aangesien hulle met pekanneute in die Hartswater-omgewing boer, het sy ook ’n paar variasies met pekanneute voorgesit – voorwaar treffers en heerlik op die tong.
Warm kekerertjieslaai
1 blik kekerertjies [gedreineer]
1 koppie rou pampoen in blokkies gesny
1 koppie rou broccoli
1 eetlepel olyfolie
2 eetlepel heuning
1 teelepel sout en peper
1 teelepel paprika
Gooi al die bestanddele bymekaar in ’n mengbak en meng goed deur.
Gooi dit in ’n lugbraaier en bak vir 10 tot 14 minute tot bros teen 180° C.
Dit kan as ’n warm slaai of ’n bygereg bedien word.
Gegeurde pekanneute
Soet variasie
1 teelepel olyfolie
1 teelepel kaneel
1 teelepel gemengde speserye
½ koppie bruinsuiker
knippie sout
2 koppies pekanneute
Gooi alles bymekaar in ’n mengbak en meng goed deur.
Bak dit in ’n lugbraaier vir ongeveer 12 minute teen 160° C.
Verwyder uit die braaier en laat dit heeltemal afkoel en bros word.
Hierdie gebraaide, gegeurde pekanneute kan ook oor bogenoemde slaai gesprinkel word.
Sout variasie
1 teelepel olyfolie
1 teelepel sout en peper
1 teelepel paprika
½ teelepel komyn
¼ teelepel rooipeper
Volg dieselfde metode as by bogenoemde resep.
Die hoeveelhede van die smaakmiddels is net ’n aanduiding. Pas dit aan volgens smaak.
Eksperimenteer ook met verskillende geure, byvoorbeeld gedroogte olyf en roosmaryn.
- Lugbraaiers se gewildheid neem skynbaar toe. Dit is ontwikkel as ’n alternatief om kos gaar te maak wat gewoonlik diepgebraai sou word. Dit gebruik lug eerder as olie om die bros effek te kry soos wanneer kos in olie gebraai word. Dit kan braai, rooster en bak met min tot geen olie, maar baie van die geregte smaak soos wanneer dit diepgebraai sou wees.
- Vervaardigers van huishoudelike toestelle sê van die belangrikste neigings wat onder kliënte opgemerk is weens die inperking van die Covid-19-pandemie, is dat daar ’n groter fokus op smaaklike kos is. Die lugbraaier, wat energiedoeltreffend én veelsydig is, is as een van die mees gesogte toestelle vir 2022 aangewys, aldus Netwerk24. – Red.





