Reandi Grey, aanbieder van die gewilde kykNET-reeks "Boer soek 'n vrou", moedig enkellopende boere aan om vir die 18de seisoen in te skryf.
Reandi Grey, aanbieder van die gewilde kykNET-reeks “Boer soek ‘n vrou”, moedig enkellopende boere aan om vir die 18de seisoen in te skryf. Credit: Gys Loubser

kykNET het die soektog na enkellopende boere vir die 18de seisoen van sy gewilde maatsoekreeks “Boer soek ‘n vrou” van stapel gestuur, terwyl die huidige 17de seisoen steeds kykers aan hul televisieskerms kluister.

Die televisienetwerk doen ‘n beroep op ongetroude boere en plaasbestuurders, beide manlik en vroulik, op voor 9 September middernag in te skryf vir ‘n kans om die liefde van hul lewens te vind.

Volgens die program se aanbieder, Reandi Grey, het tientalle Suid-Afrikaanse boere reeds hul lewensmaats deur die reeks gevind.

“Om ‘n boer te wees, beteken jy is een van die hardwerkendste, toegewydste en geduldigste mense op aarde. So ‘n mens verdien iemand wat hulle dag in en dag uit kan ondersteun en motiveer,” het Grey gesê.

Sy beklemtoon dat die program boere help om lewensmaats te vind wat hul uitdagings en suksesse kan deel.

Grey meen boere het ‘n besondere vermoë om die kleiner dinge in die lewe te waardeer.

“Hulle waardeer elke druppel wat val, elke oes, elke werker, elke familielid, elke stukkie sonskyn en elke lammetjie, want niks is gewaarborg nie. Dit is die tipe persoon wat liefde verdien,” het sy verduidelik.

Hoe om in te skryf

Geïnteresseerde kandidate kan op drie maniere inskryf:

  • Besoek www.kyknet.tv vir aanlyn inskrywing of om ‘n vorm af te laai
  • Bel 079 614 2229
  • Stuur ‘n e-pos na boer@wolflightsa.com

Vereistes en sluitingsdatum

Alle inskrywings moet vergesel word van foto’s en afskrifte van geldige Suid-Afrikaanse identiteitsdokumente. Deelnemers moet ongetroud en ouer as 21 jaar wees.

Die toptien boere vir die 18de seisoen sal op 13 November tydens ‘n spesiale kykNET-uitsending aangekondig word, waarna voornemende pasmaats die geleentheid sal kry om briewe aan die gekose boere te skryf.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article