Twee lewendige ietermago’s is in ’n ongebruikte waterkrip by ’n veepos in die Perth-omgewing by Heuningvlei in die John Taole Gaetsewe (JTG)-distrik van die Noord-Kaap gevind, waarna ’n 36-jarige buitelander in hegtenis geneem is.
Sers. Timothy Sam, polisiewoordvoerder, sê polisielede in Kuruman het inligting ontvang oor lewendige ietermago’s wat by die veepos aangehou word.
Op Vrydag 7 Julie ná hul aankoms by die veepos het die polisielede die buitelander gevra om die veepos te deursoek, waarvoor hy toestemming gegee het.
Die ietermago’s, wat ’n bedreigde en beskermde spesie is, is in die leë waterkrip gevind.
Die verdagte is in hegtenis geneem en vir die besit van ’n bedreigde spesie kragtens die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur aangekla.
Hy verskyn vandag in die Kuruman-landdroshof.
Genl. maj. Johny Besnaar, JTG-distrikskommissaris, het die polisielede bedank omdat hulle tydig reageer het op die inligting wat deur die publiek aan hulle verskaf is.
Hy het gesê misdade wat op plekke plaasvind wat die polisie nie onmiddellik kan bereik nie, benodig veiligheidstrategieë wat deur plaaslike gemeenskapsveiligheidsforums gelei word.





