Nicoleen Smit by van haar kunswerke.

Foto: Charné Kemp

Rieks Nebbe volg ’n intuïtiewe verfproses waarin die kunstenaar in skeppende intuïsie delf om op ’n nie-veroordelende wyse kuns te skep sonder om die proses te oordink. Vir Nebbe was die kunsklasse ’n manier om te ontspan en van alledaagse uitdagings te ontsnap.

Kuns as terapie kan jonk en oud help om trauma, angs, depressie of verslawing te verwerk. Dit is ’n beradingstegniek wat help genees.

Só sê Nicoleen Smit, ’n pro­fessionele terapeutiese kunsberader en eienaar van Nicoleen’s Art and Counselling Studio in Kimberley.

“Maar jy kan ook net vir pure genot skilder,” sê sy.

Smit het onlangs die kunsskool se eerste uitstalling in die St. Andrew- Presbiteriaanse kerk in Kimberley gehou waar haar studente, van so jonk as vier jaar tot 80 jaar, hul kunswerke uitgestal het.

Altesaam 20 kunswerke is verkoop. Van die inkomste en kaartjieverkope word gebruik om toerusting te koop, of is aan die kerk en liefdadigheids-organisasies geskenk.

Smit wens sy kon terapie doen om haar eie hakkel-spraakgebrek op ’n jong ouderdom te bowe te kom.

“Kuns het my gehelp om my hakkel te oorkom en voor mense te praat en klas te gee.”
Nicoleen Smit

Terwyl sommige studente kunsberading doen om trauma te verwerk, kom ander om te leer en te skilder.

“Ek het ná skool beeldende kuns studeer. In my dertigs het ons deur ernstige trauma gegaan toe my ouers op ’n kleinhoewe vermoor is. Was dit nie vir kunsberading nie, weet ek nie hoe ek sou oorleef het nie. Ek het verder studeer en my honneursgraad in kunsberading behaal.”

Sy het ’n praktyk oopgemaak, kinderberading begin doen en skilderkuns by die Vaaldriehoek Technikon aangebied.

Kunsberading is ’n vorm van psigoterapie waarin kuns en die skeppende proses vir kommunikasie en selfontdekking gebruik word. Studente kan hul emosies deur skilder, teken, beeldhou en collage op ’n nieverbale wyse uitdruk.

“Ek doen nou ’n kombinasie van kunsberading- en gewone skilderkunsklasse. Op verf-aande kom mense vir drie uur skilder. Dit is lekker, want ons skilder net.”

Kintsugi is een van die tegnieke in berading.

“Ons gebruik die konsep van ’n gebreekte vaas. Die krake word met goue verf beklemtoon. Die simboliek is dat ons almal gebroke is, maar daar is heelheid in imperfeksie.

“Neurografiese kuns is ’n algoritme waarin die mens prente, vorme en woorde gebruik om die bewuste met die onderbewuste te verbind en daarmee insig en probleemoplossing te verbeter.”

Smit aanvaar getraumatiseerde studente wat met die proses van heling begin het. Van haar studente moet traumatiese ongelukke en selfs verkragting verwerk. ’n Seuntjie het sy hartseer verwerk deur sy twee oupas, wat drie maande uitmekaar dood is, te skilder.

“Ons kan ons diepste emosie nie altyd in woorde uitdruk soos met vorm, kleur of vlakke nie. Dit is om van spanning en stres op ’n skeppende manier ontslae te raak, eerder as om na drank, kos of dwelms te gryp.

“Elke dag sien ek hoe stukkende mense heel word. Hier is ’n kind wat gedruip het. Die berading help om sy selfvertroue op te bou. ’n Vrou in haar 70’s het haar met die Covid-19-pandemie toegesluit. Toe ontdek sy haar talent met die skilderklasse.”

Sommige kunswerke is nie uitge­stal nie; die emosies is net te troebel.

“Ek het ’n muur agter in my tuin. Studente kan hul woede op ’n bord teken, en dit daarteen stukkend gooi om die emosies te begin deurwerk.”

Mense kom van so ver soos Kuruman, Daniëlskuil en Hopetown om klasse by te woon.

Volgende jaar hou hulle weer ’n uitstalling, sê Smit.

Amia Pienaar se kunswerk wat in die kuns- en kunsberading-klas vir vroue geskilder is. Dit is Kintsugi, ‘n Japanese kunsvorm. Vroue moet nadink oor hul eie gebrokenheid. Die figuur is soos die kleipot, die goue krake stel die krake in haar lewe voor wat ook haar gebrokenheid heelmaak.

Die “Magic Balloon” is ’n skildery waarin die neurografiese kuns-tegniek gebruik is. Dit is ’n algoritme waarin die mens prente, vorme en woorde in kuns gebruik om die bewuste met die onderbewuste te verbind en daarmee insig en probleemoplossing te verbeter.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article