Die Suid-Afrikaanse kunstenaar en kurator Ernestine White-Mifetu is as die Brooklyn-museum in New York se nuwe kurator vir Afrikakuns aangewys.
In haar rol as die Sills-stigting se kurator vir Afrikakuns sal sy die vooraanstaande museum se vaste Afrikakuns-versamelings ontwikkel. Die museum huisves van die grootste versamelings van Afrikakuns in Amerika. Luidens die museum se webblad is meer as 6 000 werke opgeneem wat oor 2 500 jaar strek en meer as 100 kulture verteenwoordig.
Die argiteksplanne vir die museum se nuwe galerye nader voltooiing, en White-Mifetu is in beheer van die nuwe installasie van die versameling en die herinterpretasie van die bestaande werke. Haar taak is ook om rondreisende vertonings van die versameling met sleutelwerke uit te bou.
Sy het meer as 20 jaar ondervinding op die gebied van eietydse visuele en uitvoerende kuns van die Afrikakuns en die diaspora.
White-Mifetu was voorheen die direkteur van die William Humphreys-kunsgalery (Whag) in Kimberley. Sy was onder meer ook werksaam as kurator van eietydse kuns van die Iziko- Nasionale Kunsmuseum in Kaapstad en was die ondervoorsitter van die artistieke komitee van die Nasionale Kunstefees in Makhanda. Sy is ’n bestuurslid van die internasionale komitee vir museums en versamelings van moderne kuns.
White-Mifetu het haar studie aan onder meer die kunsskool Michaelis in Kaapstad voltooi, en het ’n sertifikaat in drukkuns aan die Tamarind-instituut in Mexiko verwerf.
- In 2020 was sy in ’n dispuut met die beheerraad van die Whag gewikkel. Dit het gevolg ná ’n berig oor haar ontslag wat op Facebook aangekondig is en kort daarna onttrek is. ’n Tugverhoor het gevolg. Sy is ingevolge ’n kontrak nie toegelaat om kommentaar op die proses te lewer nie. Die Suid-Afrikaanse kunsgemeenskap het ’n versoekskrif opgestel om haar te steun en kollegas het hul misnoeë oor haar behandeling laat blyk. Die beheerraad van die galery is deur die minister van sport, kuns en kultuur, Nathi Mthethwa, aangewys. – Laetitia Pople





