Die kunsklasse wat Elsa Holdsworth van Kimberley aanbied, is veel meer as net ’n handeling met ’n verfkwas.
In Holdsworth se klasse leer haar studente – meestal volwasse vroue –om hulself beter te leer ken.
“Ons beleef ook baie humor tydens die klasse, en ek leer my studente om kritiek te hanteer,” sê Holdsworth.
Sy bied al 38 jaar lank kuns- en houtkerfklasse in Kimberley aan.
Holdsworth glo dat ’n mens nooit te oud is om met ’n kunsklas te begin nie, en dat elkeen wat wil, kan leer om te teken of skilder. Die oudste student wat sy al gehad het, was 85. Boonop glo sy aan die helende invloed van enige kunsvorm.
“Alles wat skeppend is, is genesend,” sê sy.
Sy vertel van talle studente wat met die een of ander saak geworstel het. Soos hul kunswerke gevorder en hul talent ontwikkel het, het die worsteling minder of meer hanteerbaar geword.
Soos die jong man wat erge beserings in ’n motorongeluk opgedoen het. Blokkie vir blokkie het hy kuns op materiaal geskep. Die blokkies is later aanmekaar gewerk, en het deel van ’n duvetoortreksel geword. So was daar meer as een vrou wat die kunsklasse met ’n lae selfbeeld en ’n gevoel van verwerping begin het.
“Dit is fantasties hoe dit verander,” sê Holdsworth.
Nog ’n student was in die gesondheidsberoep en het daagliks met siek pasiënte gewerk. Dit het haar begin onderkry. Haar dokter het haar aanbeveel om iets skeppends te begin doen.
“Sy het later so goed geverf dat sy van haar werk verkoop het. Ek onthou nog haar eerste voltooide kunswerk – sy het al die pad tot by haar voertuig daarmee gedans.”
Vanweë die helende invloed van die beoefening van kuns; die atmosfeer geskep deur kleurryke kunswerke teen die mure; rakke met botteltjies verf en houers vol verfkwaste; strelende musiek in die agtergrond; en ’n gemoedelike atmosfeer tussen die studente, word gemoedere gelig.
Haar studente begin hul klasse met die verf van ’n onderwerp wat hulle self gekies het. Gunsteling-onderwerpe is blomme, vrouefigure en plaastonele. Lapverf en materiaal van ’n goeie gehalte word gebruik. Later, sou die student dit verkies, word ander mediums ingespan.
“Verf dit waarvan jy hou,” is altyd Holdsworth se raad. Stap vir stap help sy haar studente deur die proses en gee deurlopend wenke.
Weens siektetoestande was 2020 vir haar baie uitdagend.
“Maar ek is nou oor dit,” vertel sy, en beklemtoon dat sy ’n positiewe ingesteldheid aanhang.
Tuinmaak, en ook die uitleg van tuine, lê haar na aan die hart. Vroeër jare het sy talle tuine vir ander mense uitgelê, en haar eie tuin in Kimberley is ’n lushof.
Van die eerste kunsvorms wat sy beoefen het, was houtkerfwerk, waarin sy duidelik ’n meester is.
“Dit is vreeslik lekker as die beeld so uit die hout uit klim,” vertel sy en wys na van haar werke waar klassieke lyne byna ’n sagtheid in die hout vorm. Maar ná jare se kerfwerk het haar arm seer begin raak, en ’n dokter het rus van dié stremmende werk aanbeveel. Dit is toe dat sy met verfwerk begin het. Deur die jare het sy kennis in die gebruik van talle mediums opgedoen, en heelwat kursusse en werksessies bygewoon.
Holdsworth het haar lisensiaat in klavier, en kan ook die orrel bespeel.
“My talente is sommer so ingebore,” sê sy met ’n byna verskonende glimlag.
- Dr. Frances le Roux van Vishoek het in die artikel “Art & Health”, wat in Julie 2017 in Natural Medicine verskyn het, geskryf dat kuns en kommunikasie terapeuties is.
Le Roux, ’n navorser en skrywer wat voorheen ’n fisioterapeut was, skryf dat die stimulus tydens die skeppende proses ’n mens toelaat om op ’n positiewe manier van die werklikheid af te skakel. Dit bring geestelike rus mee wat spanning verlaag, en ontspanning en ’n gevoel van geluk bevorder.
- Kry die skakel na die volle artikel op die Facebook-blad NoordkaapBulletin.


