Om ’n groep kleuters en tieners meer as ses ure besig te hou sonder dat hulle na hul selfone verlang, is ’n kuns. ’n Sakevrou en kunstenaar van Postmasburg het dié kuns vervolmaak.
“Ouers koop selfone vir hul kinders om hulle besig te hou, en in die proses gaan soveel kreatiwiteit en potensiaal in kinders verlore wat aan hul selfone vasgegom is,” vertel Ida Hutton.
Sy en haar span het vroeër in Julie op ’n Saterdagoggend verskeie kunstegnieke aan 50 kinders by die NG kerk-gemeentesentrum geleer. Die kinders het ook onwetend as ’n span aan een groot abstrakte skildery gewerk wat aan die einde van die dag as ’n hoogtepunt uitgestal is.
Dié skildery gaan opgeveil word, en die opbrengs sal aangewend word om Hutton se kunsklasse uit te brei na minderbevoorregte kinders wat dit nie kan bekostig nie.
In Hutton se onlangse groepklas is basiese en ingewikkelde verftegnieke op ’n speelse manier oorgedra.
“Kinders het soveel kreatiwiteit wat net in die regte rigting aangewend moet word met knip, plak, skeur en inkleur om ’n kunswerk saam te stel wat soos ’n meesterstuk kan lyk.”
Hutton, wat die afgelope jare in ander rigtings betrokke was, is van plan om voortaan skeppende kunstyd saam met kinders deur te bring.





