Die wateronderbreking wat vir eerskomende naweek vir Kimberley skeduleer is, is vir twee weke uitgestel. Die onderbreking is deel van ‘n langtermynplan om die watertoevoer na die stad te verbeter, en om gereelde waterlekke – soos die een van etlike maande gelede – te beperk.

Foto: Helena Barnard

Die uitstel van die onderbreking van watertoevoer wat vir eerskomende naweek in Kimberley beplan is, is deur sake-ondernemings van die stad verwelkom.

In ’n mediaverklaring sê Thoko Riet, mediawoordvoerder van die Sol Plaatje-munisipaliteit, dat die onderbreking na oor twee weke uitgestel is, en nou geskeduleer is vir van 06:00 op Vrydag 5 Mei tot 18:00 op Sondag 7 Mei.

Riet sê die besluit oor die uitstel van die onderbreking in watertoevoer is geneem weens die Islam-viering van die Eid-fees, en ook weens die Wildeklawer-skolesporttoernooi, wat beplan is vir 23 April tot 1 Mei. Verlede jaar tydens die toernooi is 26 000 toegangskaartjies verkoop, terwyl 4 450 deelnemers, afrigters en organiseerders teenwoordig was.

Sharon Steyn, uitvoerende beampte van die Noord-Kaapse Sakekamer (Nocci), het die uitvoerende burgemeester, die munisipale bestuurder, betrokke ingenieurs en ander bedank dat dié besluit geneem is.

“Hierdie besluit is tot die voordeel van die Moslem-gemeenskap en die hele Kimberley,” sê Steyn.

Sy sê Nocci het samesprekings hieroor met die stadsbestuur gevoer, en hoewel dit dringend noodsaaklik is om die stad se waterinfrastruktuur te herstel, was die tydsberekening verkeerd.

“Die Sol Plaatje-munisipaliteit het die regte besluit geneem. Besighede het nog altyd gesê hulle wil saam met die munisipaliteit werk, en nie teen hom nie. Die sukses van die samesprekings wys dat ons saam kan werk,” sê sy.

In ’n vroeëre verklaring het die munisipaliteit gesê die onderbreking is noodsaaklik vir die afhandeling van die Smartball-waterlek-opsporingsoefening waarin tegnologie gebruik word om waterlekke in ’n waterpypleiding op te spoor. Die oefening aan die grootmaatpypleiding in November 2022 kon nie afgehandel word nie weens nie-werkende afsluitkleppe. Die aangekondigde onderbreking in watertoevoer is onder meer nodig om hierdie afsluitkleppe te vervang.

“Hierdie onderbreking is die begin van ’n massiewe verbetering in watergehalte en -verskaffing in die stad,” sê Riet.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article