Die algemene opmerking dat “ryk boere en besighede met geld dit kan bekostig” om skade weens beurtkrag te ly, is naïef.
Dit is die mening van ’n boer van die Douglas-omgewing wat sê dat beurtkrag elke individu en elke huishouding nadelig raak.
“Wanneer ’n boerdery nadelig deur beurtkrag beïnvloed word, beteken dit swakker oeste, minder werkers wat in diens geneem word, minder voedselprodukte wat in die land geproduseer word, met duurder ingevoerde produkte die gevolg,” sê hy.
“Dit neem ’n spulpunt tussen 11 en 12 uur om een maal in die rondte te loop, met 50 mm water wat op die lande neergesit moet word. Met beurtkrag kan die spilpunt nie eens een rondte voltooi nie.”
Dit bring mee dat gewasse nie genoeg water kry nie; met ’n agterstand wat nie ingehaal word nie. Dit bring ’n vooruitsig van swak oeste mee, met ’n direkte gevolg op werkers en betrokke besighede.
Bianca Botha, tweede visepresident van die Noord-Kaapse Sakekamer (Nocci) en verkoopsbestuurder van ’n onderneming in Kimberley, sê dat rekenaars, vrieskaste, asook batterye van veiligheidshekke weens die oorskakeling van die Eskom-netwerk na die kragopwekker al skade gekry het. Ook is daar al skade met gevriesde produkte gely.
Vir ’n kleiner onderneming soos dié is dit nie koste-doeltreffend om in ’n normaalweg stil tyd van die dag en week die deure oop te hou terwyl die kragopwekker tot vier-en-’n-half uur op ’n keer aangeskakel moet word nie.
“Boonop versteur die geraas van die kragopwekker die atmosfeer.”
Ook sy moes al van produkte ontslae raak wat die ys- of vrieskas nie meer koud kon hou nie. ’n Verdere kommer is dat die alarmbattery pap word, en wanneer die krag aan is, dit nie lank genoeg tyd kry om die battery tot sy volle kapasiteit te herlaai nie. Dit verhoog die risiko vir inbrake, sê sy.
Met beurtkrag wat Suid-Afrika laat steier, waarsku Vrystaat Landbou dat die kragkrisis die land bedreig en dat ’n verlies aan voedselsekerheid en werkskepping tot anargie kan lei, skryf William Horne op Netwerk24.
Dit kom nadat Eskom Sondag (18/09) aangekondig het dat fase 6-beurtkrag waarskynlik vir die hele week nodig kan wees (hoewel daar vir fase 2 teen die naweek gemik word). Onlangs is die moontlikheid van selfs fase 8-beurtkrag genoem indien die kragnetwerk onder meer druk geplaas word.
Die nasionale energiereguleerder (Nersa) het boonop Maandag (19/09) met openbare sittings begin oor Eskom se aansoek om kragtariewe van 1 April 2023 met 32% te verhoog en die jaar daarna met byna 10%.
Dr. Dirk Hermann, hoofbestuurder van Solidariteit, sê sy lys bestes, die sogenaamde Eskom-100, sit oorgehaal om die kragkrisis af te weer. Die regering kniehalter glo die proses omdat ’n werwingsprojek om meer inklusief te wees, vereis word.



