Om noodsaaklike bystand aan bejaardes in ’n Noord-Kaapse dorp te lewer, is honderde kospakkies aan hulle afgelewer, met nog kospakkies wat oor die volgende vier maande geskenk gaan word.
Die oorhandiging van die eerste 500 kospakkies aan bejaardes van Loeriesfontein is deur nuutverkose gemeenskapsleiers Kevin Pieter en Johanna Koose inisieër, met ondersteuning van die Loeriesfontein- en Khobab-windkragaanleg. ’n Verdere 1 000 kospakkies word oor die volgende vier maande geskenk.
Hierdie inisiatief het ten doel om die gesondheid en welstand van die bejaardes te verbeter, armoede aan te spreek en morele ondersteuning te bied.
“Ons is verheug dat die windplase met Johanna en myself saamgewerk het om ’n korttermynoplossing te vind. Hierdie kospakkies is ’n tydelike maatreël. Ons werk saam met die windplase om hierdie kospakkies aan seniors van 65 en ouer vir ’n paar maande te voorsien. Daar is werklik ’n behoefte hieraan,” sê Pieter.
Deur aansoek vir die Asset-Based Community Development-finansiering te doen, kon Pieter en Koose toepaslike hulp bekom.
Die eerste en tweede fase is suksesvol afgehandel, met verspreidingsgeleenthede van 250 kospakkies elk by die Loeriesfontein-besigheidsentrum en die Loeriesfontein-sportsaal.





