Richard Cock

Foto: Verskaf

Verskillende kore en lede van die publiek kry eersdaags die geleentheid om saam te sing aan bekende geestelike liedere, en dit onder leiding van ’n simfonieorkes.

Songs of Praise, op Saterdagaand 13 April in Kimberley, is ’n samewerkingsprogram tussen die Kimberley Academy of Music (KAM) en die plaaslike tak van die Association for Dementia and Alzheimer’s of South Africa (Adasa).

Richard Cock, die voormalige dirigent van die SABC-simfonieorkes, sal die spesiaal saamgestelde KAM-simfonieorkes dirigeer met die Kimberley-kinderkoor, Ad Libitum Chorale en die New Apostolic Church Choir wat sal deelneem.

Die program duur 80 minute, met geen pouse nie. Verversings sal voor en ná die tyd te koop wees.

Volgens die organiseerders bring die besondere musiekkonsert ’n boodskap van hoop, redding en samehorigheid; en dit word beklemtoon dat KAM vanjaar 30 jaar oud is, en die Kimberley-kinderkoor 35 jaar.

Songs of Praise word Saterdag om 18:00 in die St. Cyprian’s-katedraal aangebied. Kaartjies is teen R200 by quicket.co.za beskikbaar.

Kaartjies sal ook by die deur te koop wees.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article