In die eerste studie in sy soort in Afrika is wetenskaplike bewyse gevind dat loodkoeëls die hoofbron van loodvergifting by witrugaasvoëls se kuikens is.
Linda van den Heever, BirdLife South Africa se aasvoël-projekbestuurder, doen sedert 2016 navorsing oor die hoë voorkoms van loodvergifting onder aasvoëls in Suid-Afrika.
As deel van die navorsing, wat met die samewerking van die universiteit van die Witwatersrand en Johannesburg gedoen is, is bloedmonsters van witrugaasvoëlkuikens in die Dronfield-natuurreservaat naby Kimberley geneem.
Van den Heever sê daar is op lood-isotope gefokus om die bron van loodvergifting vas te stel en te bepaal wat die fisiologiese invloed daarvan op die kuikens is.
“Witrugaasvoëls maak feitlik heeltemal op aas staat as ’n voedselbron, wat hulle besonder kwesbaar maak vir gifstowwe in die karkasse van diere.
“In ’n landwye peiling in 2019 van die loodvlak in Kaapse en witrugaasvoëls deur BirdLife South Africa het dit aan die lig gekom dat meer as 65% van aasvoëls aan lood blootgestel is, anders as ander roofvoëls en groot landvoëls soos bosvoëls en kraanvoëls. Hoewel daar lank reeds vermoed is die bron is loodkoeëls, het die bewyse ontbreek.”
Sy sê die studie het juis op kuikens gefokus omdat hulle van hul ouers vir kos afhanklik is.
“Loodkoeëls breek met die trefslag in stukkies en versprei deur die karkas. Dit bedreig die aasdiere, en ook mense wat daarvan inkry wanneer hulle (die) diere eet.”
Van den Heever sê verdere navorsing het daarop gedui dat die kuikens anemies is en lewerskade het.
“Hulle is gevolglik lusteloos en kan hul omgewing nie aktief verken nie.”
Sy sê iets kan wel aan die situasie gedoen word.
“BirdLife South Africa doen ’n beroep op alle jagters, op veldwagters en reservaatbestuurders, insluitend die mense wat vir reservate en nasionale parke werk, om die moontlike uitwerking van die verspreiding van gifstof in ag te neem en om loodvrye ammunisie te gebruik.”





