In enige klassituasie is daar kinders wat nie deelneem nie terwyl hulle in groot groepe ingedeel is.
Twee hoofredes bestaan hiervoor, sê Lizette van Huyssteen namens die Afrikaanse Onderwys Netwerk (AON) op Afrikaans.com.
“Kinders wat nie saampraat nie se aandag word makliker
afgelei, en breinpaadjies kan net gebou word in breinareas wat ‘aangeskakel’
is,” verduidelik sy.
Verspreiding van verantwoordelikheid:
Alle mense voel minder verantwoordelik om deel te neem of standpunt in te neem terwyl hulle in ’n groot groep is. Dit word die toeskouer-effek genoem.
Die vrees om negatief beoordeel te word:
Kinders kan om verskeie redes bang wees dat ander vir hulle sal lag of negatief sal beoordeel wanneer hulle iets verkeerd sê.
Verhoog deelname
- Laat kinders in die klaskamer in een-tot-een situasies en in klein groepies oefen om deel te neem. Dit ontwikkel selfvertroue en waagmoed.
- Gesels met individuele kinders op ’n ontspanne manier. Vra vrae oor hul werk, iets waarmee hulle besig is, wat hulle beplan, en hoe hulle voel oor wat hulle doen en leer.
- Bied aktiwiteite in klein groepies aan om onderlinge gesprekvoering aan te moedig. Wys soms vooraf vir een kind hoe ’n aktiwiteit of speletjie werk sodat hy of sy as instrukteur optree of jou helper kan wees.
- Gee opdragte wat kinders twee-twee moet uitvoer. Groepeer kinders wat nog onseker is, met ander wat selfvertroue het, en skep ’n omgewing van aanvaarding waarin kinders nie toegelaat word om te lag vir iemand anders wat ’n fout maak nie.
- Speel tuis opvoedkundige speletjies met die kinders. Wanneer twee of drie saam speel is die onus op elke speler om aktief deel te neem wanneer dit sy of haar beurt is.
- Leer kinders tuis hoe om verantwoordelikheid te aanvaar, saam te werk, frustrasie en konflik te hanteer, ’n eie mening te formuleer en taakgerig op te tree. Dit is ’n praktiese manier om hulle te leer om vir hulself te dink en hulself as deelnemers te leer ken. – Afrikaans.com




