Die groep kinders en onderwysers van die AGS Huis van Restourasie met enkele van die 20 sakke vol rommel wat in Royldene se strate en in ’n park opgetel is.

Foto: Charné Kemp

As kinders nie self uitgaan en vir bejaardes Kersfeesliedjies sing of nie self die strate skoonmaak nie, bly Sondagskoollesse en lesse uit die Bybel bloot teoreties.

So sê past. Lenie Heuer van die AGS Huis van Restourasie in Royldene.

’n Totaal van 18 kinders en twee onderwysers van dié gemeente het op 12 Maart, 20 swart sakke rommel in enkele strate in Royldene en die park langs die North Cape-winkelsentrum in Kimberley opgetel.

Die oogmerk was ’n praktiese oefening waarin kinders leer om by die gemeenskap betrokke te raak.

Heuer sê sy was verstom dat al die sakke propvol rommel was.

“Die kinders was baie opgewonde en tevrede toe hulle met die sakke terugkeer. Die idee was dat hulle besef ons moet na die omgewing omsien. Kla is nie die oplossing van ons probleme nie, maar optrede is.

“Die kinders het dit geniet om uit te kom, en nie stil in ’n Sondagskoolklas te sit nie. In die ou dae het kinders saamgegaan as hul ma’s vir iemand wat siek is, ’n bord kos gegee het. Deesdae bemoedig ons mense op sosiale media of maak skenkings elektronies, wat kinders nie noodwendig self beleef nie.”

Die kinders het aan die einde van verlede jaar Kersfeesliedjies vir bejaardes by ’n aftree-oord gesing.

“Ek weet nie wie dit die meeste geniet het nie, die kinders, die bejaardes of die personeel nie.”

Die kerk het ’n projek waarin hulle ou speelgoed en kinderklere bymekaar maak om aan behoeftiges uit te deel. Enigeen wat ou speelgoed of klere wil skenk, kan dit na die kerkkantoor by Constantiaweg 6 in Royldene bring.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article