’n Onbeplande en noodwaterafsluiting vir Kimberley is Woensdagmiddag 22 November bevestig. Na verwagting behoort die watertoevoer teen Saterdag terug te wees.

Foto: Helena Barnard

Te midde van ’n heersende hittegolf sal inwoners van Kimberley hulself tot waarskynlik Saterdag 25 November moet staal om sonder watertoevoer klaar te kom.

’n Nood- en onbeplande waterafsluiting is Woensdagmiddag tydens ’n nuuskonferensie deur die Sol Plaatje-munisipaliteit bevestig.

Dié waterafsluiting word genoodsaak deur twee groot waterlekke onderskeidelik in die 900 mm en 600 mm-hooftoevoerlyn vanaf Riverton.

Hoewel die waterafsluiting eers Woensdagmiddag afgekondig is, moes inwoners reeds vanaf Dinsdagmiddag met droë krane klaarkom nadat die munisipaliteit op dié dag afgekondig het dat die watertoevoer om 16:00 afgesny sal word.

’n Onbeplande en noodwaterafsluiting vir Kimberley is Woensdagmiddag 22 November bevestig. Na verwagting behoort die watertoevoer teen Saterdag terug te wees.

In dié verklaring waarin Dinsdag se waterafsluiting afgekondig is, sê Thabo Mothibi, woordvoerder van die munisipaliteit, dat die waterlekke op Maandag met behulp van ’n hommeltuig van die Ekapa-myn ontdek is. Tóé is gesê dat alle pogings aangewend sal word om die watertoevoer teen Woensdag te herstel.

Die herstel van die nuutste waterlekke is egter ’n groot en tydrowende taak, het Thapelo Matlala, munisipale bestuurder, Woensdag tydens die nuuskonferensie gesê. Volgens hom word die pypleiding gereeld met voertuie nagegaan, maar is alle areas nie vir voertuie toeganklik nie. ’n Hommeltuig is vir die rede aangewend.

Die waterlek in die 900 mm-hooftoevoerlyn, by ’n terugvloeiklep, is in die area van Sunset Manor ontdek, met nog ’n groot waterlek by die kruiskoppeling van die 900 mm en 600 mm-toevoerlyn by Midlands in die Roodepan area.

“Die munisipaliteit mik daarna om die herstelwerk teen Saterdag afgehandel te hê,” sê Matlala.

Hy sê hoewel die reservoir by Riverton vol is, en die grootste reservoir by Newton in Kimberley se vlak op 8,7 voet is, sal water nie uit die reservoirs gepomp word alvorens die herstelwerk afgehandel is nie. Die wenslike vlak vir dié reservoir is 17 voet.

Die water wat in die reservoirs is sal gebruik word om die watertenkwaens te vul wat van die gemeenskappe van water sal voorsien.

Volgens Matlala was die aanvanklike plan om slegs die 900 mm-toevoerlyn vir herstelwerk te isoleer, maar verdere uitdagings wat ontdek is, maak dit onmoontlik.

Hy sê vir die duur van die huidige waterafsluiting sal daar hoofsaaklik op die herstel van die twee waterlekke gefokus word.

Volgens Thobeka Matika, die waarnemende uitvoerende burgemeester, sal die beskikbaarheid van watertenkers deurlopend in die volgende paar dae deurgegee word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article