Die Kimberley Large Business Forum eis dat die Sol Plaatje-munisipaliteit dringend en eksklusief met hulle onderhandel om die jarelange en jongste “hemelhoë, nie-mededingende en onregverdige” elektrisiteitstariewe vir nywerhede en besighede onmiddellik om te keer.Foto: Helena Barnard


Die Kimberley Large Business Forum (KLBF) eis in ’n skerp bewoorde brief aan die stadsbestuurder en burgemeester dat die Sol Plaatje-munisipaliteit dringend en eksklusief met hulle onderhandel om die jarelange en jongste “hemelhoë, nie-mededingende en onregverdige” elektrisiteitstariewe vir nywerhede en besighede onmiddellik om te keer.

Die nywerhede en besighede bestempel dié peperduur tariewe in sekere kategorieë as die hoogste in die land en as ’n soort “vuilspel” deur “wanfunksionele munisipale bestuur” om munisipale begrotingstekorte van honderde miljoene rande te probeer toestop.

Luidens die brief, geskryf deur Jahn Hohne, KLBF-voorsitter, is Kimberley se nywerheidstariewe vir verbruik van net onder en tussen 200 kVA en meer as 500 kVA, gemeet teenoor die tien beste nywerheidsmunisipaliteite, sowat 22% hoër.

“Is dit ’n grap, of wil die munisipaliteit stelselmatig die medium en groot besighede uitroei?”

Die KLBF se lede sluit in Ekapa, Hancor, Beefmaster, Solhar, KEW, die Sol Plaatje-universiteit, Isicebi, Malu Pork, GWK, Vermeulens Build It, SAW en Leclovo.

Die KLBF voer aan die stadsvaders het die afgelope jaar nie hul besware in vier voorleggings oor die beplande tariefverhogings in die konsepbegroting en voorstelle om die sakesektor met gunstiger en aanloklike tariewe te behaag, ooit in die goedgekeurde begroting vir die 2024-’25 boekjaar oorweeg nie.

‘Min gedoen om verliese van R300 miljoen per jaar te stuit’

Die jongste begroting het sakelui “uiters teleurgestel en ontstel oor die lamlendige poging om die buitengewoon hoë” tariewe meer mededingend te maak nadat hulle reeds tien jaar lank daarteen beswaar maak.

Die “ergste is dat die munisipaliteit min doen om die verliese van R300 miljoen per jaar te stuit wat verdwyn deur verlore elektrisiteit, diefstal, meters wat omseil word, en wanbetalers.”

Luidens die brief het die munisipaliteit nie ná vele indringende vergaderings en skrywes gehou by ’n ooreenkoms op die laaste tegniese vergadering op 7 Junie om die tariewe oor drie kategorieë van industriële -en sakesektor-verbruik te verlaag nie.

Jahn Hohne, voorsitter van die Kimberley Large Business Forum.

In die brief aan Thapelo Matlala, stadsbestuurder, en Kagisho Sonyoni, burgemeester, en ander direkteure word geëis dat ’n spesiale vergadering met maksimum vyf onderhandelaars aan elke kant belê word om die KLBF se griewe te bespreek en onmiddellike oplossings te bevestig, “anders gaan besighede toemaak en werkloosheid toeneem”.

Besighede sal na ander stede verhuis waar tariewe gunstiger is.

‘Rampspoedige vergadering’

Die jongste eis kom ná ’n “rampspoedige vergadering” op 4 Julie in die raadsaal waar die KLBF maar een van vele ontevrede partye was. Dit was nie ’n eksklusiewe vergadering soos verwag nie.

Luidens Hohne se brief is die vergadering gestruktureer om te verduidelik waarom die munisipaliteit nie verdere verlagings van elektrisiteitstariewe aan die groter sakesektor kan oorweeg nie:

Die munisipale goedgekeurde begrotingsuitgawes is R3 miljard, waarvan spesiale afgesonderde toelaes vir projekte uitgesluit is;

begrote inkomste oorskry uitgawes, terwyl inkomstetekorte baie duidelik is;

vanweë die kontantgebonde aard van die munisipaliteit is die daaglikse kontantbestuursvereiste R11 miljoen, maar die munisipaliteit ontvang slegs tot R6 miljoen wat ’n jaarlikse tekort van R1 miljard veroorsaak;

die munisipaliteit het ’n geraamde tekort van meer as R1 miljard;

die Eskom maandelikse rekening van R75 miljoen plus die R7 miljoen skuld en R2 miljoen rente is ’n las van R84 miljoen per maand;

uitstaande debiteure skuld die munisipaliteit R3,8 miljard en dit groei steeds;

massiewe elektrisiteits- en waterverliese weens meters wat omseil word, verbruik wat nie gemeet word nie en elektrisiteitsdiefstal wat ’n gesamentlike verlies van tussen R600 miljoen en R800 miljoen per jaar is en nie as ’n inkomste by begroting ingesluit is nie;

ontoereikende tussentydse kontantbeleggings sal na verwagting binnekort uitgeput wees; en

nuwe digitale meters sal nie die verliese van bogenoemde verliese regstel nie, tensy die munisipaliteit onmiddellik die kragtoevoer van wanbetalende kliënte afsluit.

Thapelo Matlala, stadsbestuurder van die Sol Plaatje-munisipaliteit.

‘Nuwe besighede sal nie in Kimberley belê nie’

In pleks van om wanbetalers soos regeringsdepartemente, besighede en inwoners se kragtoevoer af te sluit word geld deur niemededingende tariewe uit besighede “getap”.

Luidens Hohne se brief het Hendrik Barnard van Elexpert, ’n konsultant vir die munisipaliteit, ’n lys van wanbetalers wat die munisipaliteit dadelik kan afsluit, maar dit word nie gedoen nie.

Die KLBF voorspel dié “hoogste kragtariewe in die land” sal die reeds krimpende nywerheids- en sakesektor verswak. Geen nuwe besighede sal dit ooit oorweeg om in Kimberley te belê nie.

Nog ’n bewering is dat Nersa “onder ’n wanindruk moet wees oor die massiewe abnormale wanbalans” tussen nywerheids-, kleiner kommersiële verbruikers- en inwonerstariewe.

Nersa se goedkeuring van die tariewe word veroordeel.

Die munisipaliteit hef ’n gemiddelde R247 per kVA vir die gekombineerde verbruik in die drie nywerheidskategorieë, terwyl Eskom R77 per kVA hef.

Op die tegniese vergadering met die munisipaliteit is ooreengekom dat die gemiddelde tarief vir die gekombineerde kVA-verbruik met 36% na R150 per kVA verminder word.

Oor drie jaar verminder
Die KLBF se voorwaarde was dat verdere verminderings oor die volgende drie jaar plaasvind om die plaaslike nywerheids- en sakesektor te stimuleer, wat die afgelope 20 jaar stagneer het.

In die lae kragverbruik-seisoen hef die munisipaliteit tussen R3,50 tot R5,77 per kW terwyl hulle dit teen R1,45 per kW van Eskom aankoop, wat ’n “onaanvaarbare en laakbare” prysbyvoeging is van tussen 141% en 298% vir nywerheids- en sakesektorverbruikers.

Die heffings is hoogs onregverdig teenoor groter besighede, omdat tariewe vir kleiner besighede teen R2,65 per kW, heelwat minder is.

Kagisho Sonyoni, burgemeester van die Sol Plaatje-munisipaliteit.

Teenstrydig met die ooreenkoms op 7 Junie vanjaar, het die munisipaliteit toe net ’n gedeeltelike tariefverlaging van 13% in die een kategorie vir hoogste nywerheidsverbruikerskategorie ingestel.

Die KLBF eis dat die munisipaliteit hou by die ooreenkoms. Sakelui is “geensins bereid om nog 12 maande te wag vir die volgende begroting nie omdat hulle al tien jaar teen die hoë tariewe baklei.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article