GS4 case
From the left are Samuel Jantjies, Jennifer Claasen, Deon Jantjies, Jean Pierre Wolfaard, Conrad Buys and Thapelo Sithonga. Photo: Charné Kemp

Ses van die sewe verdagtes wat van diefstal van R36 miljoen van ’n sekuriteitsfirma aangekla is, se verhoor is verlede week in die hooggeregshof in Kimberley uitgestel weens probleme met hul regsverteenwoordiging.

Hulle het na bewering agt jaar gelede by G4S, ’n sekuriteitsmaatskappy, sowat R36 miljoen in ’n waaghalsige diefstal gesteel.

Een van die sewe aangeklaagdes, sers. Hendrik Daniels, het homself en sy vrou Patricia, ook ’n polisielid, in Februarie vanjaar in wat die polisie vermoed ’n huishoudelike rusie was, doodgeskiet.

Volgens ingeligtes is sy tien keer geskiet voordat hy homself met een skoot doodgeskiet het.

Daniels was soos ’n ander aangeklaagde wat ook ’n polisielid is, steeds in diens van die polisie ondanks die aanklagtes teen hom, maar is verplaas om diens in die Galeshewe-landdroshof te doen.

Die oorblywende aangeklaagdes is Samuel Jantjies (51), ’n polisielid, Jennifer Claasen (52), Deon Jantjies (42), Jean Pierre Wolfaard (32), Conrad Buys (31), wat almal op waarskuwing, en Thapelo Sithonga (41) wat op borgtog vrygelaat is.

Die beskuldigdes is van links Samuel Jantjies, Jennifer Claasen, Deon Jantjies, Jean Pierre Wolfaard, Conrad Buys en Thapelo Sithonga.

Van die verdagtes is voorheen aangekla, voordat die saak van die rol geskrap is. ’n Nuwe ondersoek is gelas, waarna die verdagtes weer aangekeer is.

Hulle word van diefstal, regsverydeling en die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie, en geldwassery aangekla ná die voorval op 6 Mei 2016 by die G4S-kantore in North Circularweg, Kimberley.

Hulle het na bewering voorgegee die geld is in ’n rooftog gesteel.

Die staat voer aan dat William Hartslief op die betrokke tydstip die takbestuurder van G4S was. Die maatskappy het geld vervoer wat in bankoutomate gebruik is. Die betrokke kontant is oornag in die kluis bewaar.

Op Vrydag 6 Mei om 18:10 het Hartslief die kantoorgebou verlaat toe hy van diens af gegaan het. Claasen was toe aan diens saam met Adriaan Matthewson. Laasgenoemde het omstreeks 19:00 die gebou verlaat om medisyne te gaan koop. Met sy terugkeer was die kragtoevoer afgeskakel waarna hy vir Claasen op haar selfoon gebel het.

Sy het hom versoek om haar te kom help. Hy het oor die muur geklim en die kragtoevoer aangeskakel. Hy het Claasen vasgebind gevind en haar losgemaak. Die geld in die kluis was vermis en die polisie is ontbied.

Claasen het beweer sy het ondersoek na die kragonderbreking ingestel, toe sy deur onbekende mans oorval is wat die kluis leeggedra het. Die staat voer aan sy het die kragonderbreking doelbewus veroorsaak en met die mans saamgewerk om die geld te steel.

Elkeen van die beskuldigdes het glo ’n rol in die diefstal gespeel en die geld is in Victoria-Wes, Postmasburg en ander onbekende plekke onderling verdeel.

Die saak is tot later vandeesweek uitgestel vir al die beskuldigdes om hul regsverteenwoordigers te bevestig.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article