Honderde diere is gered ná die slikdamramp in Jagersfontein.

Foto: Facebook/Kimberley DBV

Honderde diere is gered ná die slikdamramp in Jagersfontein.

Die DBV in Kimberley het ook ingespring om troeteldiere en ander diere te red wat sedert Sondag (11/09) deur slik vasgekeer is nadat die wal van die slikdam by ‘n myn in Koffiefontein meegegee het.

Volgens Alet Steyn, voorsitter van die Kimberley DBV, het van hulle met die DBV in Bloemfontein en Virginia saamgewerk.

“Die lede het straat vir straat en erf vir erf deursoek na enige diere wat in erwe of hokke, of in slik vasgekeer was. Ons fokus was om dié wat nog lewe te red.

“Die DBV se personeellede het vir die taak beskermde klere bo-oor hul uniforms aangetrek. Almal van die drie DBV-takke het saamgewerk om van huis tot huis te loop en seker te maak dat enige lewendige diere wat agtergelaat is, gered word.

“Die lede het reënbroeke diep in waterstewels gedruk om te verhoed dat die modder in die stewels syfer. Hoewel dit feitlik onmoontlik is om die uniforms weer skoon te kry, is die modder redelik maklik van mense se vel en diere se pels met warm water en seep afgewas.

“Teen 12 September is 568 diere gered, maar daar kan moontlik nog wees. Die meerderheid van die diere is na die DBV Bloemfontein geneem om gewas, behandel en gehuisves te word.

“Die sluit 102 honde, 79 katte, 303 hoenders, 56 ganse, 4 koeie, 15 varke en 9 boerbokke in. Ons het nie telling gehou van diere wat dood aangetref is nie.

“Die Kimberley DBV is geseënd deurdat ons reiskostes en maaltye deur skenkings gedek is. Ons is nou net op bystand en benodig nie meer skenkings (vir die reddingpogings in Jagersfontein) nie, maar geld kan steeds aan die DBV in Bloemfontein geskenk word,” sê Steyn.

Bernadine Deeb, ‘n inspekteur van die DBV in Kimberley, help met die reddings-aksie in Koffiefontein.

Twee personeellede van die Kimberley DBV, Ravindra Lingham en Valentino Le Fleur, dra ‘n hok met ‘n dier wat hulle uit die slik gered het.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article