Kiesers is al in so ’n mate ontnugter met verwikkelinge in Suid-Afrika se politiek dat hulle nie vir verkiesings registreer of belang stel om te stem nie.

Dít is die “strategiese probleem” wat Suid-Afrika as ’n grondwetlike demokrasie in die gesig staar, meen Sy Mamabolo, hoofverkiesingsbeampte van die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK).

Mamabolo het benadruk die OVK is ongeag daarvan druk besig met voorbereidings vir volgende jaar se algemene verkiesing.

Llewellyn Prince berig die OVK beplan sy eerste nasionale registrasienaweek vir 18 en 19 November. Volgens hom is die OVK daartoe verbind om sy doeltreffendheid te verbeter, insluitend die bereiking van alle gestelde teikens.

Eksterne faktore kan wel ’n negatiewe invloed hê op die vermoë om die teikens te haal, sê hy. Dit sluit faktore soos beurtkrag in wat volgens Mamabolo die OVK se netwerkverbinding en die beskikbaarheid van sy stelsels raak.

Die OVK het landwyd sowat 250 plaaslike kantore, hoofsaaklik in munisipale geboue, waar die kommissie volgens hom geen beheer oor alternatiewe kragbronne het nie.

Nog ’n faktor is ontnugterde kiesers wat nie vir verkiesings wil registreer of wil stem nie.

Volgens Mamabolo sal die OVK sy rol vervul om meer kiesers by die stembus te kry, maar ander staatsinstellings moet dieselfde doen.

Simon Sonnekus berig dat werkloosheid die grootste kwelpunt onder meer as die helfte van Suid-Afrikaners is, gevolg deur misdaad, krag- en watervoorsiening en korrupsie X alles redes wat tot hul kwynende stemlus bydra.

Ongeveer 49% van respondente in ’n opname het Suid-Afrika as ’n demokrasie met ernstige probleme beskryf, terwyl 14% sê dat dit nie as ’n demokrasie beskryf kan word nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article