Die Rooibosraad het verlede week sy eerste betaling van R12,2 miljoen aan die Khoi-San-gemeenskap gemaak. Dit is danksy ’n ooreenkoms oor inheemse kennis wat in 2019 tussen die Rooibosbedryf en die nasionale Khoi-San-raad en die Suid-Afrikaanse San-raad gesluit is.
Die Nagoya-protokol bepaal dat almal wat in inheemse biologiese hulpbronne soos rooibos of ander kruie handel dryf op ’n billike manier die voordele van dit met die tradisionele bewaarders van die kennis oor dié kruie deel. Die Suid-Afrikaanse regering het die Khoi-San-gemeenskap in 2014 amptelik as die regmatige tradisionele kennisbewaarders van rooibos erken. – Francois Williams

