Die Vaalrivier by Warrenton. Die samevloeiing van dié rivier met die Oranjerivier vind by Douglas plaas. Fritz Bekker, ‘n watergehaltespesialis, het oor ’n tydperk strafregtelike klagtes oor swak rioolaanlegbestuur teen die munisipale bestuurders van Vanderkloof, Hopetown, Upington, Kakamas en Vredesvallei langs die Oranjerivier, en Bloemhof, Christiana, Warrenton, Hartswater, Jan Kempdorp en Barkly-Wes teen die Vaalrivier aanhangig gemaak. Cholera is nie net ‘n bedreiging vir dorpe en stede teen riviere nie, maar ook vir die wat direk en oor ‘n afstand water vanuit riviere kry, soos onder meer Kimberley. Die stad se water word vanaf Riverton langs die Vaalrivier gepomp.

Foto: Helena Barnard

’n Watergehaltespesialis wat die afgelope vyf jaar elke munisipale rioolaanleg langs die Oranje- en laer Vaalrivier besoek en watermonsters geneem en ontleed het, is oortuig dat cholera reeds baie meer lewens geëis het as wat amptelik bevestig is.

Die nasionale departement van gesondheid het Vrydag 9 Junie bevestig dat 32 mense die afgelope weke in Gauteng, die Vrystaat en Noordwes aan cholera dood is. Die eerste gevalle is in Hammanskraal aangemeld.

Die Vaalrivier by Warrenton. Die samevloeiing van dié rivier met die Oranjerivier vind by Douglas plaas. Fritz Bekker, ‘n watergehaltespesialis, het oor ’n tydperk strafregtelike klagtes oor swak rioolaanlegbestuur teen die munisipale bestuurders van Vanderkloof, Hopetown, Upington, Kakamas en Vredesvallei langs die Oranjerivier, en Bloemhof, Christiana, Warrenton, Hartswater, Jan Kempdorp en Barkly-Wes teen die Vaalrivier aanhangig gemaak. Cholera is nie net ‘n bedreiging vir dorpe en stede teen riviere nie, maar ook vir die wat direk en oor ‘n afstand water vanuit riviere kry, soos onder meer Kimberley. Die stad se water word vanaf Riverton langs die Vaalrivier gepomp.
Foto: Helena Barnard

Fritz Bekker, ’n watergehaltespesialis wat namens die Gariep Watch nie-regeringsorganisasie chemiese, bakteriese en biologiese watergehalte in die betrokke riviere moniteer, meen die situasie is veel erger as wat die departement besef.

Cholera beweeg vinnig en ver met riviere af.

Bekker het oor ’n tydperk strafregtelike klagtes oor swak rioolaanlegbestuur teen die munisipale bestuurders van Vanderkloof, Hopetown, Upington, Kakamas en Vredesvallei langs die Oranjerivier, en Bloemhof, Christiana, Warrenton, Hartswater, Jan Kempdorp en Barkly-Wes op die Vaalrivier aanhangig gemaak.

Volgens hom word watersuiweringaanlegte, waarvan vele rivierwater onttrek en vir drinkwater suiwer, dikwels ook swak bestuur.

Roodepan, Kimberley: Die deel van die woonbuurt net voor die spoorlyn op pad na die 3SAI-weermagbasis. Hier is verskeie huise omring deur riool, met die pompstasie verwoes en buite werking. Die beeldmateriaal is in Mei vanjaar verkry.

Die Platfontein-dam buite Kimberley, soos wat dit twee jaar gelede gelyk het. Die pan word stelselmatig groter weens lekkende riool- en varswaterpype rondom die hoofstad van die Noord-Kaap.
Foto: Argief

Ongeag “ingrypings” en etlike miljoene rande wat bestee is: Die Platfontein-dam soos in Mei vanjaar. Nie-werkende rioolpompstasies dra grootliks tot die uitbreiding van die riooldam by. Kinders van die Platfontein-gemeenskap speel gereeld in die dam, en die veekuddes drink die water.
Foto: Verskaf/Johan Smit

Verbaas oor verbasing

Bekker is verbaas dat amptenare verbaas is oor die cholera-gevalle.

“Almal is lankal bewus van die rou rioolstortings vanaf plaaslike owerhede, wat die grootste waterbesoedelaars in Suid Afrika is.

“Die verantwoordbare munisipale bestuurders behoort van strafbare manslag aangekla te word omdat hulle die moontlikheid moes voorsien het dat hul handeling tot sterftes kan lei.”
Fritz Bekker

Fritz Bekker
Foto: Argief

“Gariep Watch en die Stellenbosch Universiteit is besig met risiko-ontledings stroom-op en stroom-af van verskeie rioolwerke wat gebruik kan word om forensiese-gehaltebewyse te versamel waarmee die munisipale bestuurders vervolg gaan word.

“Vanweë my navorsing die afgelope jare is ek 100% seker dat daar baie meer mense oor die afgelope jare aan cholera en ander wateroordraagbare siektes dood is. Die oorledenes en pasiënte is net nie vir die siektes getoets om ’n diagnose te bevestig nie. Die voorvalle is waarskynlik net aan diarree of een of ander seisoenale maagkiem toegeskryf.”

Hy kon vanweë sy navorsing en inligting sekere bevindings maak, soos dat die E.coli-inhoud in besoedelde water korreleer met die aantal hospitaal-opnames weens diarree in betrokke gebiede.

In Upington en omgewing is dit algemeen dat plaaswerkers en ander mense direk water uit die kanale en riviere gebruik. Sy toetse van die rivierwater vanwaar Upington se drinkwater geneem word, wys al sedert 2017 skreiende hoë vlakke van E.coli.

“Jy kan selfs die siekte opdoen as jy in die rivierwater swem of watersport beoefen en water in jou mond spat. Vrugte en groente wat rou met die skil aan geëet word, kan ook menslike riool bevat, waarvan die E.coli-telling ’n aanduiding is.

Tonele soos dié – van oorstroomde rioolstelsels – is ‘n algemene gesig in munisipale gebiede. Hierdie foto is in Homevale, Kimberley, geneem.
Foto: Argief

‘n Onvoldoende en foutiewe rioolstelsel in Roodepan, Kimberley het veroorsaak dat die huis en erf byna voortdurend met rioolwater oorstroom is. Ná ’n aantal jare is die probleem met die rioolpompstasie steeds nie opgelos nie.
Foto: Helena Barnard

Tydens ’n besoek in September 2021 aan die Homevale-rioolaanleg in Kimberley: Boy Dhluwayo, toe nog direkteur van infrastruktuur en dienste van die Sol Plaatje-munisipaliteit in Kimberley, Goolam Akharwaray, destydse munisipale bestuurder, David Mabuza, toe nog adjunkpresident, en dr. Zamani Saul, premier. Die adjunkpresident was ook op besoek aan onder meer Jan Kempdorp om water-en-sanitasie probleme en die besoedeling in die Vaalrivier te ondersoek.
Foto: Charné Kemp

Geen positiewe Groen-druppel verslae

“Geen van die Noord-Kaapse, Noordwes of Vrystaatse munisipaliteite in ondersoek langs die riviere het die afgelope jaar positiewe Groen-druppel verslae vir rioolwatergehalte ontvang nie,” sê hy.

Die situasie word vererger omdat klinieke en hospitale se afvalwater, wat komplekse kombinasies van patogene organismes en farmaseutiese stowwe bevat, ook na munisipale rioolaanlegte gelei word.

“Antibiotika-weerstandigheid is ’n groot kommer omdat die patogene in die teenwoordigheid van lae konsentrasies antibiotika in ons riviere oorleef en dan weerstandig raak.”
Fritz Bekker

Hy het die afgelope jare elke drie maande risiko-ontledings op datastelle gedoen. In elke datastel is die aanvaarbare vlakke van E.coli in die water oorskry.

“E.coli is ’n aanduiding van menslike ontlasting in die water, van onverwerkte riool wat in die riviere gestort is. Die E.coli is teelaarde vir parasiete, virusse, bakterieë en fungi wat siektes soos gastroënteritis, schistosomiase, cholera, disenterie, hepatitis A, amebiase, trichomas, tifuskoors, poliomiëlitis en leptospirose kan versprei.

“Aanlegte word al etlike jare swak bestuur deur onbekwame personeel wat nie weet hoe om die werke te bedryf en nie die erns van rioolstortings besef nie. Die water by riool-aanlegte is nou veel meer gekonsentreer en besoedel as selfs by oop mangate en pompstasies waar stadiglopende rioolwater aan suurstof en UV-lig blootgestel en sommige van die patogene vernietig word.”

Hy sê die risiko vir wateroordraagbare siektes soos cholera is baie hoog vir watergebruikers vanuit riviere waarin ongesuiwerde riool gestort word. Die risiko verhoog in die eerste paar dae van hoogvloeiperiodes en dan weer met laagvloei wanneer daar min verdunning in riviere is.

‘Maak goeie vordering’

In ’n verklaring het die nasionale departement van gesondheid verlede week gesê hulle maak “goeie vordering om die verspreiding van cholera te beheer en die oorsaak van die uitbreking te ondersoek.

“Nasionale-, provinsiale- en distrikspanne is as deel van die ondersoek uitgestuur om inwoners in te lig oor die siekte en hoe om dit te vermy. Tot verlede week is 600 mense wat vermoedelik die siekte onder lede het, in hospitale in Gauteng en die Vrystaat gesien. In Hammanskraal is 200 mense in ’n veldhospitaal,” lui die verklaring.

In vyf provinsies is daar tot nou 166 cholera-gevalle met laboratoriumtoetse bevestig, met 202 gevalle waar die siekte vermoed word.

Die departement maan mense om versigtig te wees vir vermoedelik besoedelde kos, water en oppervlaktes, gereeld hande te was as hulle kos maak en die badkamer besoek en nie onbehandelde water van riviere, strome en damme te drink nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article