Keimoes se bekende waterwiel is nadat dit in die tweede week van Augustus vir herstelwerk afgehaal is, nog nie terug op sy plek in die besproeiingskanaal langs dié dorp se hoofstraat nie.
Daar is aanvanklik gesê dat die waterwiel so “binne twee weke weer op sy plek sal wees”.
Dié historiese landmerk van Keimoes wat in 1978 tot nasionale gedenkwaardigheid verklaar is, is een van die gewildste bakens in die dorp waarby toeriste en besoekers graag stop.
Bowendien het Cupido ook al sy pyl by dié waterwiel afgeskiet, en sekuur getref.
Kort ná die waterwiel skynbaar “oornag” verdwyn het, het Meyer Clarke, bestuurder van elektromeganiese dienste van die Kai !Garib-munisipaliteit, aan NoordkaapBulletin gesê die wiel, ’n swaar ysterkonstruksie, is die vorige week deur ’n munisipale vragmotor met ’n hyskraan verwyder, en is by die munisipaliteit se werkswinkel vir herstelwerk.
Hy het verduidelik dat die rollaers wat die wiel om sy as laat draai, ingegee het, asook ’n deel van die as waarop dit gedraai het. Dit het veroorsaak dat die wiel in die kanaal ingesak het, nie meer kon draai nie, en die watervloei blokkeer het.
Nadat die waterwiel ongeveer drie weke op die werkswinkel-terrein van die munisipaliteit gelê het, is dit nou na ’n private ingenieursonderneming in die dorp geneem wat met die munisipaliteit hande vat om dit te herstel.
Meisie Pool, ’n jarelange inwoner van die dorp en voorsitter van AfriForum in Keimoes, sê dit was lank reeds dat die waterwiel “gehuil en geskree” het wanneer hy draai weens die rollaers en die as se slytasie.
Werner Strauss, AfriForum-distrikskoördineerder in die Noord-Kaap, sê hulle is dankbaar dat die wiel se rollaers vervang gaan word, ’n saak wat hulle reeds ’n geruime tyd by die munisipaliteit aangeroer het.
Die organisasie het toe reeds aangebied om die wiel te laat herstel, maar toestemming is nie verleen nie.
“Die waterwiel is nie net die munisipaliteit s’n nie. Dit is die dorp s’n, en ’n bekende landmerk,” sê Strauss.
Opknapping aan die waterwiel sluit onder meer die versterking van sommige sweislaste in, afskuur, verf, asook die vervanging van die geslyte as en gebreekte rollaers. Een van die metaalvinne het ook afgebreek. Die wiel is glo ongeveer tien jaar laas opgeknap.
‘Verdwyning’ van waterwiel ontstel
Inwoners, besoekers en toeriste was in rep en roer oor die verdwyning van dié waterwiel.
Randall Edward Pieters het dit só op die Facebook-blad Keimoesiete bewoord: “Dierbares eks geskok waar is ons waterwiel”.
Gemengde reaksies het op sy plasing, wat ook foto’s van die konstruksie sonder die waterwiel insluit, gevolg.
Van die reaksies het onder meer ingesluit dat die wiel “geval het en in die stroom op pad na Kakamas is”, “iemand het hom gaan leen om ’n block en tackle mee te maak”, ander het die “tikkoppe” van diefstal beskuldig.
Vandeesweek skryf Nicolette van der Byl op die Facebook-blad Keimoesiete: “gister da verby geloop ai dit voel neti reg sonnr di e waterwiel ni”.
Hennie en Marthie Malan skryf: “ai so hartseer dat die ou baken van Keimoes nou waarskynlik moes deurloop hoop van harte hy vind weer sy pad terug.”
“Ja ek sien baie besoekers stop daar maar geen waterwiel in sig,” skryf Nico Smith.
Met die “verdwyning” van die waterwiel het verontwaardiging dik geloop, en die algemene gevoel was dat die inwoners ten minste ingelig kon word dat die waterwiel vir herstelwerk afgehaal is.
Vir inwoners lê dié waterwiel hulle na aan die hart. Vir hulle is dit ’n bekendheid wat hulle tuis laat voel: Die waterwiel in dié kanaal wat in 1883 voltooi is en wingerde aan die een kant van die hoofstraat, met een van die kenmerkende koppies van die omgewing aan die anderkant van die hoofstraat. Die kanaal word steeds gebruik.
Staan jy by die waterwiel, en jy kyk straatop, kan jy Tierberg sien uitsteek – nog ’n bekende landmerk van die dorp vanwaar besoekers ’n besondere panorama oor dié deel van die Oranjerivier-vallei kan beleef, asook die unieke eilande in die Oranjerivier, en dele van die besproeiingskema.
Staan jy by die waterwiel en kyk jy uit oor die wingerde, sien inwoners hul tipiese geliefde omgewing, en op die horison die hoë bome wat al langs die kronkelende Oranjerivier groei.
Die rivier wat hierdie dorre deel se lewensaar is.
‘Juffrou’ bekyk die wiel; vind liefde
Floris Bosman het gedurende die jare sestigs by Chrisjan Thirion gewerk – hy was ’n ystersmid. Hulle het dié waterwiel gebou en in 1964 voltooi.
In dieselfde jaar het Bosman die waterwiel vanaf die Keimoes-eiland met die pad afgerol tot in Keimoesdorp waar hy dit in die kanaal opgerig het. Op een van die kanaalysters het hy sy voorletters “FB Bosman” uitgesweis.
Terwyl Bosman besig was om die waterwiel op te rig, het juffrou Berta Redelinghuis haar sub. A-klassie (deesdae gr. 1) vir ’n uitstappie na die oprigting geneem sodat hulle dié grootsheid wat in Keimoes plaasgevind het, eerstehands kon beskou en deel daarvan wees.
Nou ja, só vertel Pool, het dié belangstelling daartoe gelei dat juffrou Redelinghuis nog steeds saam met oom Floris bly – met gelukkig getroude jare agter die rug.
Bosman noem dat hulle met tieroogklippe die naam “Keimoes” op ’n bord uitgepak het wat hulle ook by die wiel vasgesit het.
“Dit was van verskillende kleure klippe, en wanneer dit skoongemaak is, het dit baie mooi geblink,” onthou hy.
Die egpaar bly tans as afgetredenes in Robertson in die Wes-Kaap.





