Die “verdwyning” van Keimoes se alombekende waterwiel het sedert die naweek talle inwoners, besoekers wat die omgewing ken, asook toeriste in rep en roer. Dié waterwiel is in 1978 as ’n Nasionale Gedenkwaardigheid verklaar en pryk in die besproeiings­kanaal reg langs die hoofstraat.

Foto: Helena Barnard

Keimoes se bekende waterwiel in die ­kanaal langs die hoofstraat het oënskynlik einde verlede week tussen neus en vinger verdwyn. 

Op sosialemediaplatforms is inwoners, besoekers en toeriste in rep en roer oor die verdwyning van dié dorp se historiese landmerk, wat in 1978 tot nasionale gedenkwaardigheid verklaar is.

Die “verdwyning” van Keimoes se alombekende waterwiel het sedert die naweek talle inwoners, besoekers wat die omgewing ken, asook toeriste in rep en roer. Dié waterwiel is in 1978 as ’n Nasionale Gedenkwaardigheid verklaar en pryk in die besproeiings­kanaal reg langs die hoofstraat.

“Dierbares eks geskok waar is ons waterwiel”, vra Randall Edward Pieters op Facebook. Gemengde reaksies op sy plasing, wat ook foto’s van die konstruksie sonder die waterwiel insluit, volg.

Van die reaksies sluit onder meer in dat die wiel “geval het en in die stroom op pad na Kakamas is”, “iemand het hom gaan leen om ’n block en tackle mee te maak”, ander het die “tikkoppe” van diefstal beskuldig. Dat die wiel net “weg” is, was vir almal wat kommentaar gelewer het, verstommend.

Verbygangers kon hul oë nie glo toe Keimoes se bekende waterwiel meteens nie meer te sien is nie.

Meyer Clarke, bestuurder van elektromeganiese dienste van die Kai !Garib-munisipaliteit, sê die wiel, wat ’n swaar ysterkonstruksie is, is einde verlede week deur ’n munisipale vragmotor met ’n hyskraan verwyder, en is in die werkswinkel vir herstelwerk.

“Van die rollaers wat die wiel laat draai, het ingegee. Dit het veroorsaak dat die wiel in die kanaal ingesak het, nie meer kon draai nie, en ook die watervloei blokkeer het,” sê hy.

Clarke sê daar word ook beplan om die ysterwiel behoorlik op te knap. Dit sluit die versterking van sommige sweislaste in, asook afskuur en verf.

Die wiel is ongeveer tien jaar laas opgeknap. 

Werner Strauss, AfriForum-distrikskoördineerder in die Noord-Kaap, sê hulle is dankbaar dat die wiel se rollaers vervang gaan word, ’n saak wat hulle reeds ’n geruime tyd by die munisipaliteit aanroer. 

“Die waterwiel is nie net die munisipaliteit s’n nie. Dit is die dorp s’n, en ’n bekende landmerk.” Strauss sê die organisasie is bereid om ‘n bydrae te lewer, soos nodig, vir die spoedige herstel en terugplaas van die waterwiel.

Volgens Clarke behoort die wiel binne twee weke weer op sy plek te wees. 

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article