Tydens die onlangse en verdere verfraaiing van die tuin van die Keimoes-kliniek, is van links Ensie Kammies, Rhowan Blou, Ricardo Spangenberg en Meisie Pool.

Foto: Verskaf

Vyf witkaree- en drie ebbehoutbome is by die kliniek in Keimoes deur AfriForum se plaaslike tak aangeplant.

Dié tak het reeds verlede jaar begin om die kliniek se perseel met plante te verfraai en het toe reeds vyf kareebome, 30 Karoo-aalwyne en 15 skoonma-se-tong-plante daar geplant.

Tydens die onlangse en verdere verfraaiing van die tuin van die Keimoes-kliniek, is van links Ensie Kammies, Rhowan Blou, Ricardo Spangenberg en Meisie Pool.

Suster Elsabé Neethling en die ander kliniekpersoneel versorg die tuin goed en daarom het Meisie Pool, voorsitter van AfriForum se Keimoes-tak, en Dirk Malan, omgewingsakebeampte, besluit dat die tak die tuin verder sal uitbrei.

“Almal was geesdriftig en het ywerig saam geplant. Ons poog om elke jaar bome te plant en so te help om die natuur te beskerm,” sê Pool oor die aksie wat op 29 September plaasgevind het.

“Deur inheemse bome te plant bewaar ons nie net ons omgewing en maak dit ’n mooier plek om in te bly nie, maar ons wys ook dat ons hoop vir die toekoms het. Bome is veel meer as bloot ’n belangrike deel van die ekostelsels of ’n noodsaaklike natuurlike hulpbron – bome is simbolies van lewe,” sê Werner Strauss, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Noord-Kaap.

“Boomplantmaand het die perfekte geleentheid gebied om ’n blywende verskil in ons gemeenskappe te maak. Bome het deurlopende sorg nodig om tot voordeel van almal te floreer, en die tak in Keimoes onderneem om hierdie sorg te verskaf. Dit is simbolies daarvan dat ons hier is om te bly en hoop vir die toekoms het,” meen Strauss

Die tak moedig die gemeenskap aan om deurgaans inheemse bome in hul dorp te plant en deel te wees van ’n groener toekoms.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article