Die lede van Gage is van links Llewelyn Burger, Jason Horseman en Orishen White.

Foto: Verskaf

Jason Horseman, stigter, liedjieskrywer en hoofsanger van die Kimberley-rockgroep Gage is baie opgewonde oor hul vierde album, World Below You, met tien nuwe liedjies wat op 7 April vrygestel word.

Die album is op 31 Maart by The Bandit in Kimberley bekendgestel. Dié restaurant behoort aan Llewelyn Burger, ’n agtergrondsanger en kitaarspeler. Die ander lid is Orishen White, agtergrond­sanger en baskitaarspeler. Horseman speel die tromme.

Die eerste enkelsnit, “Baby B” wat begin Maart uitgereik is, vaar baie goed en word deur heelwat radiostasies gespeel. Die album is in samewerking met die bekroonde Theo Crous, musiekvervaardiger en musikant van Springbok Nude Girls- en Kobus!-faam, gemeng en vervaardig. Crous het aan “Baby B” help skryf.

Horseman vertel hy en Crous het ná twee jaar se samewerking “soos broers” geword. Volgens hom sal ieder en elk ’n liedjie vind waarvan hulle hou, of dit stadige ballades, gematigde tempo of “heavy rock” is.

“Dit klink anders as ons ander albums, en het ’n verskeidenheid. Ons klank het volwasse geraak, te danke aan Theo. Sy wêreldwye ondervinding en vernuf het ’n rol gespeel. Hy het ook sy hart hierin gesit.

“Mense kan dalk huil wanneer hulle na sommige liedjies luister, maar deur ander snitte inspireer word,” sê hy, soos met die liedjie “Rise”.

Die rockgroep gaan volgende jaar weer in die Verenigde Koninkryk (VK) toer. Hulle het in die afgelope ses jaar optredes in onder meer Glasgow, op groot musiekfeeste en op die Edinburgh Fringe gehad.

“My grootste ondersteunings­basis is in die buiteland. Dit gaan harde werk verg om die toer te beplan, want baie van die venues in Engeland het weens die inperking toegemaak.”

In die pandemie het Horse­man 50% van die liedjies op die album geskryf omdat hy nie kon optree of kitaar- en tromlesse aanbied nie.

Intussen het hy geld gespaar om Crous te nader om hom met sy volgende album by te staan.

“Hy het belang gestel, want hy het uit ons vorige albums besef ons is ernstig oor ons musiek. Hy het ons geweldig gehelp om die musiek en die verwerkings te vervolmaak, en was ook baie betrokke by ’n ongelooflike orkestrale ballade, ‘You Are’.

“Theo het my gedruk, ek moes ’n paar keer teruggaan na sy Bellville Studios om bestaande liedjies te verbeter en nuwes voor te lê.”

Goeie terugvoering uit die buiteland laat die groep glo hulle kan ook die Amerikaanse mark verower.

“Dit is eienaardig dat baie van die wêreld se rockgroepe meer gewild in ander lande was as in hul geboorteland. Afrikaanse musiek, kwaito en RnB is meer gewild in Suid-Afrika as ons soort musiek.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article