Kampeerplek is nog in die Mokala- Nasionale Park beskikbaar vir diegene wat die agtste Mokala-boskonsert en verrigtinge volgende naweek, van Vrydag 21 April to Sondag 23 April, wil bywoon.

Tydens die konsert Saterdagaand onder die sterre, tree Pietman Geldenhuys as gaskunstenaar op. Mokala is sowat 80 km suid van Kimberley, langs die N12.

Geldenhuys is ’n musikant, liedjieskrywer, komediant, akteur en die afgelope paar jaar mede-aanbieder van die TV-program Oppiestoep.

Van die liedjies wat hy geskryf het is al deur kunstenaars soos Bok van Blerk en Andries Vermeulen opgeneem. As ’n veelsydige kunstenaar wat al meer as 15 jaar in die vermaaklikheidsbedryf is, het hy nie net in TV-reekse opgetree nie, maar ook in teaterproduksies.

Die Mokala-boskonsert word jaarliks deur die Sanparke-ereveldwagters se Vrystaatse streek aangebied om die park se inkomste aan te vul. Die konsert lewer elke jaar ’n groot bydrae tot bewaring in Mokala.

Pakkette sluit verblyf vir twee aande vir twee persone in (met slegs kampeerplek nog beskikbaar), ’n ete die Vrydagaand, en ’n buffet ete en kaartjies vir die konsert Saterdagaand.

Die program vir die naweek gee gaste genoeg tyd om oor die naweek die hele park te verken. Volop wild soos gemsbokke, basterhartbeeste, bastergemsbokke, koedoes, buffels, kameelperde en swartwitpense is te sien. Voëlkykers kan gerus hul verkykers saamneem want daar is ’n groot verskeidenheid voëls en ’n besoek aan die Stofdam-voëlskuiling is die moeite werd.

Die konsert belowe om weer eens, soos die vorige boskonserte, ’n onvergeetlike ervaring te wees en die ereveldwagters nooi belangstellendes uit om saam met Geldenhuys, sy liedjies en stories, asook die ereveldwagters onder die Noord-Kaapse sterrehemel te kuier.

Bel Ina Leamy by 082-202-4202 of stuur ’n e-pos na ina@honoraryrangers.org vir meer inligting en besprekings.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article